Arno Carstens se bloedmonster bevraagteken

Arno Carstens Foto: Joanne Olivier Photography

Die verpleegster wat sanger Arno Carstens se bloedmonster geneem het, het nie die korrekte prosedure gevolg nie, het sy prokureur Woensdag aan die Kaapstadse landdroshof gesê.

Milton de la Harpe, vir Carstens wat van dronkbestuur aangekla word, voer aan die bloedtoetsprosedure wat suster Sheila Newman gevolg het, stem nie ooreen met die aanwysings wat op die pamflet in die boksie gepubliseer is nie. Hy sê die pamflet beveel aan dat ʼn nie-alkoholiese antiseptiese vloeistof gebruik moet word wanneer die gedeelte, waar die naald in die vel in gesteek word, skoongemaak word.

Newman het getuig dat sy haar pasiënte se arms skoonmaak met watte wat met skoon water bedruip word. Dié water kom uit ʼn kraan en word in ʼn bottel gestoor. “Ons kan nie nat lappies gebruik wanneer ons vir alkohol toets nie, omdat dit die toets gaan beïnvloed,” het sy verduidelik.

De la Harpe sê daar is ander vorms van antiseptiese vloeistowwe beskikbaar wat nie alkohol bevat nie. “Ons weet nie wat die oorsprong van die water is nie en ons weet nie wat die oorsprong van die bottel is nie,” het hy gesê. Newman het bevestig die water kom uit ʼn kraan.

Carstens pleit onskuldig op ʼn aanklag van dronkbestuur en, as alternatiewe klag, dat hy met ʼn bloedalkoholvlak van 0.20% ʼn motor bestuur het. Die wettige perk is 0.05%.

Newman het hom ná sy inhegtenisneming in Kaapstad in Desember 2010 bygestaan. Sy het getuig dat sy hom nie spesifiek kan onthou nie, aangesien sy monsters van ongeveer 65 mense vir elke skof tussen 18:00 en 06:00 neem. “Die gedrag van die beskuldigde word bepaal deur die tyd wat op die vorm aangedui is. Dit beteken dat die kliënt sy samewerking gegee het, omdat ek sy bloedmonster een minuut nadat ek vir hom gesê het wat moet gebeur, geneem het.”

Sy sê dit is standaard prosedure om ʼn steriele naald uit die pakkie te haal, die bloed te trek en dan die buisie te kantel om seker te maak dat dit met die wit poeier in die buisie meng.

De la Harpe het ook haar metode, om die bloed met natriumfluoried te meng, bevraagteken. Dit word gedoen om seker te maak dat bakterie nie vorm nie. Hy sê Newman het getuig dat sy die buisie slegs twee of drie keer gekantel het, alhoewel die pamflet aanraai dat die buisie ten minste 10 keer gekantel moet word. Newman het hierop geantwoord dat dit voldoende is, solank daar nie meer poeier in die buisie oor is nie. “Ek trek al bloed sedert 2006 en ek het nog nooit ʼn klag van die laboratorium af ontvang dat die bloed nie goed genoeg gemeng is nie,” het sy gesê.

Carstens se prokureur sê die verkeerde prosedures wat hy uitgelig het, dui daarop dat daar ʼn groot moontlikheid bestaan dat die bloedmonster deur bakterie of ander mikro-organismes besmet is.

Dit word glo gestaaf deur bewyse van getuies wat nie enige “dronk” gedrag van Carstens opgemerk het nie. “Iewers het iets verkeerd geloop. Óf in die proses waar die bloed getrek is, óf in die proses waar die bloed geanaliseer is,” het De la Harpe bygevoeg.

Die saak is tot 2 Oktober uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.