Arno Jordaan se vroulief swanger

Arno en Lizanie Jordaan

Sanger Arno Jordaan en sy vrou, Lizanie, verwag hul eersteling.

Arno se broer en agent, Dewald, het Maandag gesê die egpaar en familie is in hul noppies oor die nuus. “Arno en Lizanie is baie opgewonde. Alles lyk baie goed,” het Dewald, aan LookLocal gesê.

Sedert Jordaan verlede week die nuus op Facebook gedeel het, stroom die gelukwense in. Dit volg skaars twee weke nadat Arno beseer is toe hy op 17 April op die N14 onderweg na Krugersdorp in ʼn motorongeluk was. Lees meer hier.

Arno skryf op Facebook: “Sorry ek was so stil julle! Ja ek word ‘n pappa! Soos in mal opgewonde. God is groot en ek glo dis die rede dat hy my beskerm het in die ongeluk.” [sic] Nagenoeg 1 600 volgelinge het op Facebook van sy nuusbrokkie gehou.

Arno het verlede maand vir Looklocal se sustertydskrif, Get It, vertel hy en Lizanie is gereed vir kinders. “Ek wil graag ’n laaitie hê. Daar is nog nie nou al enige planne vir ’n kleinding nie, maar ek glo dit sal nie meer lank wees nie,” het Arno tydens dié onderhoud gesê. Hy sê voorts dat hy, net soos sy pa, sy kind gaan leer om musikaal te wees en om van rugby te hou.

Die paartjie het verlede jaar op 14 Januarie by ’n glansryke seremonie in Tzaneen getrou. Hulle het by dieselfde plek getrou waar hy haar die eerste keer ontmoet het.

Bron: LookLocal Pretoria-Oos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.