Asteroïde amper hier

‘n Asteroïde sal Vrydag in ruimteterme ‘n haarbreedte van die aarde af verbyskuur.

Die kanse vir ‘n botsing is egter nul. Nasa het onlangs bekend gemaak dat asteroïde 2012 DA14 nog nader aan die aarde gaan verbybeweeg as wat voorheen gemeen is. Volgens Nasa sal die asteroïde van 50 meter in deursnee slegs 27 680 km van die aarde verbyskiet, in plaas van 35 000 km soos wat voorheen aangekondig is. Dit is laer as wat baie satelliete, en in besonder die geostasionêre satelliete om die aarde wentel. Geostasionêre satelliete wentel 35 800 kilometer bo die ewenaar.

Prof. Matie Hoffman van die Boyden-sterrewag buite Bloemfontein en vaste panneellid van RSG se gewilde program, Sterre en plante, het aan Maroela gesê dit is nogal “effens skrikwekkend.” Maar niemand hoef bekommerd te wees nie, die asteroïde gaan beslis die aarde mis en so ook die internasionale ruimtestasie wat minder as 400 km van die aardoppervlak af wentel. Nasa meen ook die kanse dat die asteroïde met ‘n satelliet sal bots is uiters gering. Asteroïdes van hierdie grootte bots gemiddeld elke 1 200 jaar met die aarde, maar is nie noodwendig katastrofaal nie, sê Nasa. Die aarde kry gemiddeld elke 40 jaar so ‘n besoeker.

Sommige bronne verwys na die afstand wat die asteroïde nou by die aarde gaan verbyskuur as ‘n rekord vir nabyheid. Amateurs sal besonder vernuftig moet wees om die verbyvlug te kan waarneem. Op sy helderste sal die besoeker net donkerder wees as die perk wat die menslike oog sonder hulp kan waarneem. Die asteroïde sal oor die nagtelike suidelike hemelruim beweeg voor dit in die noordelike hemelruim oggendlig sal kry. Dit is verlede jaar sewe dae nadat dit 2,6 miljoen km verby die aarde gevlieg het, ontdek. Nasa sal die geleentheid benut om deur radar meer van die asteroïde te wete te kom.

Volksblad berig vanoggend dat mense na die Clay Center Observatory se uitsending van die gebeurtenis kan kyk by www.ustream.tv/channel/clay-center-observatory.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.