ATKV wil Afrikaans as een van drie amptelike tale vestig

Die ATKV het Woensdag gesê hy beplan om groot maatskappye en die regering oor die volgende 18 maande te oortuig om Afrikaans as een van die land se drie amptelike tale aan te wys.

Volgens dr. Danny Titus, die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuur, gee die nuwe Talewet, wat pas deur pres. Jacob Zuma bekragtig is, die land 18 maande om te beslis op minstens drie tale vir amptelike gebruik.

Titus, wat ook die Verenigde Nasies oor die regte van inheemse volke adviseer, het by die ATKV se algemene jaarvergadering in Mosselbaai gesê dat die nuutste sensusinligting baie bemoedigend is vir Afrikaans.

“In vergelyking met die vorige sensus praat sowat 870 000 méér mense nou Afrikaans. Meer as 600 000 swart mense het aangetoon dat Afrikaans hul huistaal is. Afrikaans is onder die drie mees gebruikte tale in ses van die land se nege provinsies,” het hy gesê.

Titus het gesê alle ander inheemse tale se gebruik het dieselfde gebly of gedaal. Die gebruik van Engels het gestyg van 8.2% tot 9.6% van alle Suid-Afrikaners, terwyl Afrikaans gestyg het van 13.3% tot 13.5%.

“Die inligting is baie opwindend. Maar ons staan met die nuwe Talewet ook voor die grootste uitdaging vir tale in Suid-Afrika ooit. Ons sien uit daarna om die nuwe riglyne te gebruik en die taal op ‘n nuwe baan te plaas,” het hy gesê.

“Ons praat ook met verskeie staatsdepartemente en ander instellings soos Telkom en Transnet om die belang van die wet uit te lê en saam met hulle ‘n pad te stap. Die wet gee aan ons breë riglyne. Ons wil ons Afrikaanse bona fides op die tafel plaas en die taal se saak oordra. Ons glo ons staan ‘n sterk kans om Afrikaans te vestig as een van drie landswye amptelike tale,” het hy bygevoeg.

Volgens Titus het die ATKV reeds met ander taalgemeenskappe begin praat om die taalregte en -verpligtinge aan hulle uit te wys. Daar is ook ander taalorganisasies wat die ATKV se bedingingsprosesse dophou.

“Anders as politiek wat verdeel, is kultuur daar om mense bymekaar te bring. Ons is betrokke by die Voortrekkermuseum, maar ons gee ook erkenning aan die Distrik Ses Museum, en werk om Afrikaans te versterk in ander erfenisgebiede,” het Titus gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.