Audi-ongeluk: Polisieman voorheen ondersoek

Dit is al wat van die Audi R8 oorgebly het ná die ongeluk in Oxfordweg Foto: Sebabatso Mosamo, EWN

Die polisiebeampte wat verlede week in ‘n beweerde hoëspoedjaagtog in Johannesburg gesterf het, is vantevore ook ondersoek.

Konst. Goodman Lubisi (31) en ʼn sakeman, Areff Haffejee, is Donderdagoggend in Oxfordweg, Rosebank in Johannesburg, dood nadat Haffejee vermoedelik beheer oor sy Audi R8 verloor het.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, het aan die media bevestig dat Lubisi voorheen vir teistering ondersoek is nadat hy sy vuurwapen verloor het. “In 2010 het die Sandton-polisiestasie se bevelvoerder ʼn klag van teistering teen Lubisi en ander beamptes ontvang. ʼn Interne ondersoek is gedoen en die beamptes is slegs gewaarsku. Die klaagster het egter nie ʼn saak oopgemaak nie,” het Dlamini aan die Sowetan gesê.

“In verband met die verlore vuurwapen, het die beampte dit ná  ʼn rooftog in Alexandra aangemeld. Die saak is ondersoek en daar is bevind dat die beampte nie nalatig opgetree het nie,” het Dlamini gesê.

Die polisie het aanvanklik gesê Haffejee is omstreeks 04:00 deur die polisie in Rivoniaweg, Sandton, van die pad af getrek en dat daar glo klein bietjie dagga in sy besit gevind is. Die polisie het voorts gesê Lubisi was in die voertuig toe Haffejee na bewering van die toneel af weggejaag en die ongeluk gemaak het. ʼn Ooggetuie het egter ʼn ander weergawe van die storie wat die vermoede laat ontstaan het dat Lubisi saam Haffejee in die voertuig gery het om omkoopgeld te gaan trek.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die ongeluk en bewerings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.