Baard-moord: “Ek hoop die waarheid kom uit”

Zayne van Tonder (links) en Roedolf Viviers (regs). Die aanklagte teen Van Tonder is verlede jaar teruggetrek. Foto: SAPA

Die man wat daarvan verdink word dat hy ʼn Moslem-man doodgeslaan het, se saak is Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg uitgestel.

Roedolf Viviers (28) sal op 4 Maart weer in die hof verskyn en hy moet teen dan besluit of hy sy eie regsverteenwoordiger of een van die Regshulpraad wil gebruik. Hy bly in aanhouding. Viviers en sy vriend Zayne van Tonder (33) het Mohammed Fayaz Kazi (27) glo op 6 Augustus verlede jaar by ʼn kitskosrestaurant in Magaliesburg aangerand. Viviers en Van Tonder het hom glo oor sy baard gespot en hom “Osama Bin Laden” genoem. Kazi het later aan sy beserings beswyk.

Die aanklagte teen Van Tonder is in November teruggetrek. Van Tonder was ook gister by die hof en het aan verslaggewers gesê dat hy graag sy medelye aan Kazi se gesin en sy vrou wil oordra. “Ek weet dit moet moeilik wees vir hulle… Ek hoop dat die waarheid uiteindelik sal uitkom en dat sy (Kazi se vrou) afsluiting sal kry.”

Alicia Surendra, staatsaanklaer, het in die hof gevra dat Viviers na ʼn gevangenis in Johannesburg oorgeplaas word aangesien hy sedert sy inhegtenisneming in die Krugersdorp-gevangenis aangehou word. Viviers se regsverteenwoordiger het die versoek egter teengestaan en gesê sy kliënt verkies om in Krugersdorp aangehou te word aangesien dit nader aan sy familie is. Die regter het gesê dit is ʼn administratiewe kwessie en dat dit nie vir hom is om te besluit nie.

Kazi se vrou, Sajidah, was in trane toe sy buite die hof met verslaggewers gepraat het. Sy sê dit was die eerste keer wat sy vir Viviers gesien het. “Ek bid vir afsluiting en krag… My geloof is wat my aan die gang hou.” Die egpaar is 16 maande voor sy dood getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.