Die polisie ondersoek nog die voorval waar ʼn Moslem-man na bewering in Magaliesburg deur twee mans doodgeslaan is nadat hulle hom oor sy baard gespot het.
Mohammed Fayaz Kazi (27) was Maandag saam met ʼn vriend van sy pa, Anser Mahmood, by ʼn kitskosrestaurant toe die voorval plaasgevind het. “Twee mans het Kazi ‘Osama Bin Laden’ genoem,” het Mahmood Woensdag gesê.ʼn Stryery het in die restaurant ontstaan waarna al vier mans uit die restaurant gejaag is. Buite het die twee verdagtes vir Mahmood met ʼn onbekende voorwerp bewusteloos geslaan. Kazi is oor die kop geslaan.
Kazi is na die voorval van een hospitaal na ʼn ander verplaas, voor hy by ʼn hospitaal in Potchefstroom aan sy beserings beswyk het. Hy is Dinsdag begrawe.ʼn Saak van moord is by die Potchefstroom-polisiestasie aanhanging gemaak.
Neville Malila, ʼn polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.“Ondersoekbeamptes het ooggetuies identifiseer en is besig om verklarings te neem, ná dit behoort ons gou iemand aan te keer,” het Malila aan EWN gesê.