Baarmoeders suksesvol oorgeplant

Argieffoto

Argieffoto

Nege vroue in Swede het suksesvol baarmoederoorplantingsoperasies ondergaan en sal binnekort probeer om swanger te raak.

Die vroue is óf sonder ʼn uterus gebore óf dit moes weens servikale kanker verwyder word. Meeste van die vroue is in hul 30s en is deel van die eerste groot eksperiment om te sien of dit moontlik is om ʼn baarmoeder oor te plant sodat hulle self geboorte kan skenk.

Organe soos harte, lewers en niere word al dekades lank oorgeplant en dokters het ook begin om hande, gesigte en ander liggaamsdele oor te plant.

Die eerste baarmoederoorplantings is slegs tydelik en gaan gebruik word om te sien of die vroue swanger kan raak en swanger kan bly.

Twee vorige pogings in Turkye en Saoedi-Arabië was onsuksesvol, toe die vroue nie swanger geraak het nie. Wetenskaplikes in Engeland en Hongarye beplan ook soortgelyke operasies.

“Dit is ʼn nuwe tipe sjirurgie,” het dr. Mats Brannstrom, voorsitter van die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit van Gothenburg, gesê. Hy staan ook aan die hoof van die baanbrekersprojek. “Ons het geen handboek om te gebruik nie.”

Brannstrom sal volgende maand saam met sy kollegas ʼn werkswinkel aanbied oor hoe om baarmoeders oor te plant en sal ook na verwagting binnekort hul wetenskaplike bevindinge publiseer.

Hy sê dit gaan goed met die nege vroue wat die operasies ondergaan het. Talle het reeds hul eerste menstruasiesiklus ses weke ná die oorplanting gehad – die eerste teken dat die baarmoeders gesond is en funksioneer. Een vrou het ʼn infeksie ontwikkel en ander het ʼn paar verwerpingsepisodes gehad, maar nie een van die vroue moes intensiewe sorg ontvang nie. Die vroue is almal ʼn paar dae ná die operasie ontslaan.

Nie een van die vroue, wat baarmoeders ontvang of geskenk het, se name is bekend gemaak nie. Die oorplantings het in September 2012 begin en die skenkers was ma’s en ander vroulike familielede. -SAPA

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.