Baba Allegra vier eerste verjaardag

Allegra kort na haar geboorte verlede jaar. Foto: Facebook

Baba Allegra Lategan het gister haar eerste verjaardag gevier nadat sy verlede jaar op 22 weke gebore is en net 515 gram geweeg het.

Allegra het verlede jaar nadat sy met ʼn keisersnee in die lewe gebring is haar eerste paar dae in ʼn plastieksakkie deurgebring aangesien haar vel papierdun was. Saterdag tydens haar eerste verjaardagpartytjie het Allegra ʼn volle 6,2kg geweeg. Haar ouers Hennie (30) en Chantal (30) Lategan, het op ʼn Facebook-groep vir hul klein vegtertjie geluk gesê: “Veels geluk aan die wonderlikste meisiekind wat enige ouer ooit voor kan vra!! Allegratjie, Mamma is soooo ongelooflik lief vir jou, jy’t vir die wêreld gewys dat jou Pappa steeds wonderwerke doen. Jy het so hard baklei, van dag 1 af, en nou is dit al ‘n jaar later. Jy is ons alles, en ons sê miljoene dankies vir Liewe Jesus dat Hy jou vir ons gegee het, en so mooi na jou kyk. Jy maak ons so trots. Baie geluk met jou 1ste verjaardag vandag, dis ‘n heerlike sonskyndag vir ‘n sonskynstraaltjie.”

Allegra moet intussen ’n kogleêre inplanting kry nadat dokters ouditiewe neuropatie by haar gediagnoseer het. Chantal sê dit beteken dat Allegra soms sekere klanke kan hoor maar nie kan sin uitmaak daarvan nie. Die familie moet egter nog die nodige fondse hiervoor insamel. Volgens Chantal het hulle sowat R700 000 nodig.

Besoek Allegra se Facebook-blad hier.

Allegra het Sondag haar eerste verjaardag gevier. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.