ʼn Baba is Maandag met ʼn gedeelte van sy hart buite sy borskas gebore in Port Elizabeth in die Oos-Kaap.
‘n Woordvoerder van die departement van gesondheid, Size Kupelo, sê die 17-jarige ma het geboorte gegee aan die baba by haar huis voor sy na die Dora Nzinga hospitaal gehaas is. Die baba is tans in die hoësorgeenheid van die hospitaal. Dokters wil moontlik Dinsdag probeer om die baba te opereer. Kupelo sê hy weet nie wat die geslag van die baba is nie. In ʼn soortgelyke geval verlede jaar is Ashleigh Louw op 9 Januarie 2011 gebore met haar hart buite haar borskas. Sy is op 5 Maart dieselfde jaar oorlede. Die toestand staan bekend as Pentalogie van Cantrell, ’n seldsame ontwikkelingsafwyking. Dit kom voor in sowat 1 uit elke miljoen babas.