ʼn Baba is Donderdag huilend tussen menslike ontlasting in ʼn buitetoilet in Thembalethu, naby George, gevind.
Kaptein Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die 4 maandeoue seuntjie is na wat verneem word Woensdag daar gelos en eers Donderdag gevind. “Ons het inligting ontvang dat ʼn vrou met Rastalokke Woensdag omstreeks 20:00 naby dié toilet met twee kinders gewaar is. Sy het albei kinders gedra. Sy het glo die kind wat sy op haar rug gedra het in die toilet gelos. Dieselfde vrou is minute later weer gesien, maar die keer net met een kind,” het hy gesê.
“Die babatjie was in skok en getraumatiseerd en is na die George-hospitaal geneem waar hy vir ontwatering en uitputting behandel is,” het Pojie gesê. ʼn Saak van poging tot moord en kinderverwaarlosing word ondersoek.
– Sapa