Baba in ysige koue op ‘n slee gebore

Bella Bonanni Foto: Today

Bella Bonanni Foto: Today

ʼn Babadogtertjie is buite in die straat op ʼn slee in ysige temperatuur van ongeveer minus 26 grade Celsius gebore danksy haar pa se slim plan.

Shirley Bonanni (33) van Philadelphia moes al op 18 Januarie gekraam het, en was Woensdag dus reeds oor haar tyd met haar tweede kind, berig Today.

Fabian, Shirley se man, het vroeër in die week gelukkig al ʼn plan beraam toe hulle hoor ʼn sneeustorm is op pad. Hul motor sukkel glo om oor ʼn heuwel deur die sneeu na en van hul huis te ry. Hy het Dinsdagoggend ʼn goedkoop neongroen slee aangeskaf, en was van plan om Shirley, wanneer die tyd kom, op die slee te plaas, afdraande te sleep en dan met hul motor na ʼn hospitaal te haas.

Die sneeu het begin val, en Shirley het begin kraam. Die slee het handig te pas gekom, maar die kontraksies was glo vinniger as wat die egpaar, altwee aptekers, verwag het.

Toe Shirley se eerste kontraksies begin het, het die egpaar hul ouers gebel om na hul oudste, die tweejarige Logan, om te sien. Shirley het solank gaan stort, en Fabian het die motor gaan regkry, maar toe hy haar op die slee plaas, het hulle besef die baba gaan nie wag tot by die hospitaal nie.

Bella is Woensdagoggend om 06:20 in die straat op die slee gebore. Sy het 3.44 kg geweeg.

Volgens Fabian het talle van die bure uitgekom toe hulle die geraas hoor en een van die bure was met paramedici van 911 op die telefoon om Fabian instruksies te gee. “Dit het alles so vinnig gebeur, ek kan nie eers onthou wat hulle gesê het nie. Bella is baie vinnig sommer so natuurlik gebore,” het Fabian gesê. “Ons is baie gelukkig en baie tevrede dat ons ʼn gesonde babadogtertjie het.”

Klik hier om nog foto’s te sien en klik hier om meer te lees oor die 911-oproep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

EyesEars ·

‘n Mooi (amper sprokiesverhaal) storie.
Bella. Jy is bedoel om op aarde te wees. Mag al jou drome waar word en jy geseënd wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.