Baba L: Kêrel is aggressief; ma is naïef

Baba L se ma verlaat die hof tydens 'n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie se tweejarige dogtertjie aangerand het, is ʼn gewelddadige persoon, het die Pretoria-Noordse landdroshof Vrydag gehoor.

Staatsaanklaer Tania Carstens het verklarings voorgehou wat deur die man se familielede opgestel is. Hy is glo van nature gewelddadig. Sy ma het in ʼn stadium ʼn beskermingsbevel teen hom bekom omdat hy glo “astrant” was en “altyd teëgepraat” het. Die situasie was glo beter toe hy uit die huis getrek het.

“My broer is aggressief. Selfs in sy vorige verhoudings het hy sy meisies aangerand,” het sy suster in ʼn verklaring gesê. Sy sê haar broer het vir haar gesê hy is bereid om te vlug, want hy sien nie kans om tronk toe te gaan nie. “Hy het na my huis toe gekom en gesê hy is van plan om te vlug, aangesien sy vriendin se familie teen hom gedraai het,” het die hof gehoor.

Tydens hul aansoek om borgtog het dit aan die lig gekom dat die man ook ʼn saak van algemene aanranding teen hom het. Die man se prokureur, SD Nel, het aan die hof gesê sy kliënt borgtog van R10 000 kan bekostig. Hy weet nie waar sy paspoort is nie, en hy is nie van plan om die land te verlaat nie, het Nel gesê.

Die hof het vroeër gehoor die ma is geestelik onvolwasse. “Sy is naïef en het nog nie volwassenheid bereik nie,” het haar prokureur, Pieter Coetzee gesê. Hy het ʼn sielkundige se verslag aan die hof voorgehou. “Sy het nie selfmoordneigings nie en sal veilig wees by haar familie. Sy besef nie die erns van die situasie nie,” het Coetzee uit die verklaring gelees.

Haar vorige emosionele uitbarstings word glo toegeskryf aan dreigemente wat sy ontvang het.

Landdros Pierre Wessels het beslis dat sy deur ʼn sielkundige ondersoek moet word.

Die kleuter sterk aan in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria. Die paartjie is in hegtenis geneem nadat ʼn dokter by die hospitaal, wat die kind behandel het, die polisie ontbied het. Sy het gebreekte ribbes, ʼn gekraakte skedel, bloeding op die brein en gaatjies in haar pankreas en niere gehad. Haar liggaam was ook vol kneusplekke en sy het vermoedelik breinskade opgedoen.

Lees ook:
Baba L se ma hoor dalk vandag oor borg
Baba L se ma moet vir sielkundige evaluasie gaan
Baba L: Verdagte hoor eers later oor borgtog
Baba L: Ma, kêrel weer in hof
Baba L geopereer, toestand steeds ernstig
Trane vloei in hof tydens tweejarige se mishandelingsaak
Tweejarige in hospitaal: Ma, kêrel Maandag in hof
Tweejarige in hospitaal: Ma, kêrel vas

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Sluit hom toe en gooi die sleutel weg, asb. Geen vrou of kind mag ooit weer onder sy vuiste deurloop nie. Kan nou nog nie glo dat hy ‘n klein babatjie so seer kon maak nie. Hy is ‘n gevoellose geweldenaar wat nie in die samelwing hoort nie.

namibiaengel ·

‘Sy is naief en nog nie volwassenheid bereik nie”……………… maar volwasse genoeg om kleintjies te maak. Nee nou ek als gehoor!!!!

eyesears ·

Dreigemente van wie en wat? Kan dit moontlik wees dat die ma in n skok toestand verkeer en dit dus n rede is waarom sy nie die erns van die saak kan begryp nie?

Dan ·

Vuilgoed wat meisies en baba-dogtertjies aanrand. ‘n Agressiewe meneer volgens die berig, wonder of hy nog so sterk sal wees as hy homself teen ‘n man moet laat geld. Kinder -aanranders, moordenaars en verkragters is vuilgoed wat uit die samelewing verwyder moet word in plaas daarvan om op belastingbetalers se onkoste in hotelle (sg. tronke) gehuisves te word. Ek is siek vir hierdie lae gemene gespuis wat doen net wat hulle wil en dan met handskoentjies behandel word omrede hulle kwansuis oor menseregte beskik. Wat van daardie kind wat so verinneweer is? Wat van haar mensregte????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.