Baba L: Ma, kêrel se borgaansoek duur voort

Baba L se ma verlaat die hof tydens 'n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1

Die 20-jarige ma en haar 36-jarige kêrel wat daarvan verdink word dat hulle glo die ma se tweejarige dogtertjie mishandel het, se borgaansoek gaan Donderdag in die Pretoria-Noord-landdroshof voort.

Tydens die twee se hofverskyning Vrydag is daar beweer dat die man ʼn gewelddadige persoon is. Staatsaanklaer Tania Carstens het verklarings voorgehou wat deur die man se familielede opgestel is. Sy ma het in ʼn stadium ʼn beskermingsbevel teen hom bekom omdat hy glo “astrant” was en “altyd teëgepraat” het. “My broer is aggressief. Selfs in sy vorige verhoudings het hy sy meisies aangerand,” het sy suster in ʼn verklaring gesê. Sy sê haar broer het vir haar gesê hy is bereid om te vlug, want hy sien nie kans om tronk toe te gaan nie. Die hof het ook vroeër gehoor dat die ma geestelik onvolwasse is. “Sy is naïef en het nog nie volwassenheid bereik nie,” het haar prokureur, Pieter Coetzee gesê. Hy het ʼn sielkundige se verslag aan die hof voorgehou. “Sy het nie selfmoordneigings nie en sal veilig wees by haar familie. Sy besef nie die erns van die situasie nie,” het Coetzee uit die verklaring gelees. Haar vorige emosionele uitbarstings word glo toegeskryf aan dreigemente wat sy ontvang het.

Baba L, soos die tweejarige dogtertjie bekend staan, sterk intussen aan in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria. Die paartjie is in hegtenis geneem nadat ʼn dokter by die hospitaal, wat die kind behandel het, die polisie ontbied het. Sy het gebreekte ribbes, ʼn gekraakte skedel, bloeding op die brein en gaatjies in haar pankreas en niere gehad. Haar liggaam was ook vol kneusplekke en sy het vermoedelik breinskade opgedoen.

Lees vorige berigte oor Baba L op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rieks ·

Hoe verwag die man om borgtog te kry na wat hy aan ‘n onskuldige klein mensie gedoen het? Hou hom daar agter tralies totdat julle besluit het of hy skuldig is of nie… Voel net dat hy nie daardie kind ‘n kans gegun het vir ‘n normale lewe nie hoekom moet hy enige vryheid kry.

ALF ·

Waar was die CMR in hulle gebied, hoekom is daar nie gaan kyk wat in hulle huis aan gaan nie, waar was die familie as hulle geweet het dinge is so sleg. ek is seker daar was mense by hulle en om hulle wat al die dinge gesien en gehoor het maar niks daaraan gedoen het nie. Dalk moet daar bietjie gaan gekyk word by die PTA NOORD CMR se kantore hoeveelkeer is daar melding gemaak………………………..en di persone betrokke daarmee moet ook verduidelik hoekom hulle niks daaraan gedoen het nie

Doortjie ·

Ai weet jy …… so onnodig, en natuurlik is dit almal anders behalwe die skuldiges! Wat besiel n mens om so iets aan n kind te doen, n lafaard, n slegte lafaard!!

Michelle ·

Dis is soooo hartseer!!! Ek weet vir n feit en uit my hart uit mamma is 100 persent onskuldig, ek het haar hartseer en pyn eerstehands ervaar!! Linda ek bid v jou en jou prinsessie. Die Here hou Sy hand oor julle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.