Baba L se ma moet vir sielkundige evaluasie gaan

Baba L

Baba L

Die 20-jarige ma, wat saam met haar 36-jarige kêrel daarvan verdink word dat hulle glo haar tweejarige dogtertjie mishandel het, het Dinsdag aan die Pretoria-landdroshof gesê sy was nooit teenwoordig toe die beweerde mishandeling plaasgevind het nie.

Pieter Coetzee, die ma se prokureur, het in die hof haar verklaring voorgelees en gesê sy is op drie verskillende geleenthede by haar werk geskakel en ingelig oor haar kind se beserings.

Die kind, Baba L, soos sy in die media bekend staan, het deur die jaar ʼn skool bygewoon terwyl die ma gewerk het. Sy was genoop om in Desember haar dogtertjie in die man se sorg te los.

Tydens een geleentheid is die ma meegedeel dat die kêrel en Baba L saam by die trappe afgeval het. Tydens ʼn ander geleentheid het het die kêrel gesê Baba L het van die wasmasjien afgeval.

Baba L is na die Steve Biko-hospitaal geneem, waar sy later ontslaan is.

“Ons is daarna na ʼn privaathospitaal, maar die dokter daar was geskok dat my kind ontslaan is en ons moes haar terugneem Steve Biko toe,” het die ma in haar verklaring gesê.

Die paartjie is op 4 Januarie by die Steve Biko-hospitaal in hegtenis geneem nadat Baba L daar opgeneem is met ernstig kop- en lyfbeserings. Sy word steeds daar behandel vir gebreekte ribbes, ʼn skedelbreuk, bloeding op die brein en gaatjies in haar pankreas en niere.

Landdros Pierre Wessels het gesê hy is bekommerd oor die ma se emosionele toestand en het haar vir sielkundige evaluasie gestuur. Haar saak is tot Vrydag uitgestel wanneer sy na verwagting sal hoor of sy op borgtog vrygelaat kan word.

Kort ná die hofverrigtinge begin het, het die kêrel se prokureur vir uitstel gevra, aangesien hy nog nie heeltemal voorbereid is nie. Die beskuldigde se borgtogaansoek is tot 17 Januarie uitgestel.

Die hof was volgepak deur lede van die publiek wat in swart T-hemde, met ʼn foto van Baba L op, opgedaag het om teen geweld teen vroue en kinders te betoog.

Lees vorige berigte oor Baba L op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ria Maritz ·

Nou het ek alles gehoor !!!! Sy was nie een maal teenwoordig nie !!!! MAAR, het sy NIE EEN MAAL onraad vermoed nie ??? SNERT, sy het PRESIES geweet wat gebeur en haar hande is ook bevlek met bloed … stuur haar vir sielkundige evaluasie – EN DIREK DAARNA TRONK TOE !

Oupa ·

Hoekom geldmors op ‘n sielkundige……reel dat hulle in Brakpan verhoor word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.