Baba L: Verdagte hoor eers later oor borgtog

Baba L

Baba L

ʼn Ma en haar kêrel wat van poging tot moord aangekla word nadat hulle glo die vrou se tweejarige dogtertjie mishandel het, het Dinsdag aansoek gedoen om borgtog in die Pretoria-Noord-landdroshof.

Die hof was volgepak deur lede van die publiek wat in swart T-hemde opgedaag het om teen geweld teen vroue en kinders te betoog. Sommige mense het buite die hof foto’s van ʼn baba, wat met ʼn drup in ʼn hospitaalbed lê, rondgeswaai. Landdros Pierre Wessels het die mense in die hof gewaarsku dat geen foto’s geneem mag word nie en dat geen emosionele uitbarstings toegelaat gaan word nie. “Dit is nie ʼn sepie nie,” het hy gesê.

Kort na die hofverrigtinge afgeskop het, het die 36-jarige man se prokureur vir uitstel gevra, aangesien hy nog nie heeltemal voorbereid is nie. Die beskuldigde se borgtogaansoek is tot 17 Januarie uitgestel.

Die 20-jarige ma het daarna met haar aansoek voortgegaan. Haar verhoor duur voort.

Die ma en haar kêrel is op 4 Januarie by die Steve Biko-hospitaal in hegtenis geneem waar Baba L, soos sy in die media bekend staan, aangesien sy volgens wet nie geïdentifiseer mag word nie, behandel word. Die twee beskuldigdes het op 6 Januarie vlugtig in die hof verskyn en die saak is uitgestel. Baba L se ma het onbedaarlik gehuil tydens dié verskyning.

Baba L is op Oujaarsdag in die Steve Biko-hospitaal opgeneem nadat sy inmekaargesak het. Sy het ernstige kop- en lyfbeserings opgedoen waaronder gebreekte ribbes, ʼn skedelbreuk, bloeding op die brein en gaatjies in haar pankreas en niere.

Lees vorige berigte oor Baba L op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GawieM ·

In hierdie land waar misdaad eerder die reël as die uitsondering is, is ‘n baba nie eers meer by haar eie ma veilig nie. Waarheen is die Suid Afrikaanse gemeenskap op pad? Kan mens nog in hierdie land bly?
Hier moet ‘n dringende verandering van regering kom en die regstelsel, asook die wat moet toesien dat dit toegepas word sal ook moet verander.
Hoop nie die gemors kry borg nie.

BIANCA ·

WIE OF WATSE TIPE MENS DOEN SO IETS AAN N KIND DIT IS SKOKKEND OM TE DINK SO PERSOON SAL N KIND SE RIBBES BREEK SONDER ENIGE GEWETE!!! GENADE DIS ERG

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.