Baba Mienke se ma kalm oor kankernuus

Verna Mulder saam met haar twee dogtertjies (Foto: ‘Please pray for Mienke’/Facebook)

“Ek sê altyd dat ons nie aan God se belofte aan ons mag twyfel nie. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie.”

Dit is die lewensleuse waarvolgens Verna Mulder dag tot dag leef.

Mulder het in Suid-Afrikaners se harte gekruip tydens die stryd wat haar dogtertjie, Mienke, oftewel Baba Mienke, moes voer nadat sy in 2017 op die ouderdom van ses maande aan melk verstik het by haar dagmoeder in Mbombela (Nelspruit). Mienke het breinskade opgedoen en is in 2020 dood.

Vroeër die maand het Mulder egter haar eie stryd begin voer nadat ’n aggressiewe soort borskanker by haar gediagnoseer is. Dié skok-diagnose kom na weke se ongemak en pyn wat sy moes deurmaak.

“Ek sê altyd dat ’n vrou haar eie lyf ken,” vertel Mulder aan Maroela Media terwyl sy rustig met Mia, haar marmosetapie, sit en speel.

“Ek het ’n hele ruk gelede al besef dat iets nie pluis is nie. My regterbors het snaaks gegroei. Ek het my eers nie veel daaraan gesteur nie, die een helfte van jou lyf is mos maar altyd groter as die ander. ’n Maand gelede het dit egter begin seer raak.”

Mulder vertel verder dat sy in ’n stadium selfs gesukkel het met pyn wanneer haar twee dogtertjies by haar gelê het.

“Dit het gevoel asof ek ’n spier of iets gerek het, ek was in geweldige pyn. Dit het een aand so erg geword dat ek vir Ryno [Mulder se man] gesê het dat ek ongevalle toe wil gaan. Hy het net gevra wat die ongevalle op daardie oomblik sou help.”

Mulder is egter op Maandag 4 April na haar huisdokter en hy het haar gestuur vir ’n mammogram en ʼn sonar.

’n Week daarna het die skoknuus aan die Mulders se deur kom klop.

“Ek het geen idee wat die kanker se naam is nie, die dokter gaan my maar weer moet herinner,” het Mulder geskerts.

Ryno het die nuus op 12 April op die Facebook-groep, ‘Please Pray for Mienke’, met gesin se byna 60 000 volgelinge gedeel.

Die werklikheid van haar diagnose het hom nog nie heeltemal kom tuismaak in Mulder se hart nie.

“Ek het met ’n vriendin van my se ma by wie borskanker ook gediagnoseer is gesels. Sy het vertel dat dit gevoel het of haar lewe tot ’n einde kom toe sy hoor dat sy kanker het. Ek voel dit nie regtig nie, ek is nog rustig daaroor.”

Sy sien egter op teen die newe-effekte van chemoterapie.

“Om eerlik te wees, is ek meer skrikkerig vir my hare wat dalk gaan uitval as die kanker self.”

Sy erken egter dat die werklikheid moontlik gaan inskop wanneer sy met behandeling begin.

“Ek was verlede jaar platgetrek deur Covid-19. Ek het gehuil en vir Ryno gesê dat ek nie meer kan nie. Ek hoop werklik dat die chemo my nie sal laat voel soos toe ek destyds gevoel het nie.”

Oor die duur en soort behandeling wat sy gaan moet ontvang, is sy nog nie seker nie.

“Ek het eintlik gedink dat hulle die kanker net gaan kan uitsny, maar die dokters het intussen gesê dat dit nie so eenvoudig is nie.”

Mulder sal vir die eerste ruk chemoterapie moet ontvang, waarna operasies en bestraling gaan volg. Die Mulders sal dié week ’n volledige behandelingsplan ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janine

Uit my hart uit dra ek jou en jou mense aan God op.

AmY

Julle is in ons gedagtes en gebede.

Wondermaarnet

Sterkte en moenie moed opgee nie.

Ansie

Baie sterkte, Verna, daar is vir seker hoop. My peetkind se ma het ook ‘n aggressiewe borskanker gehad. Eers chemo gehad, toe mastektomie (dubbel om voorkomend op te tree) en toe bestraling. Daarna op kankerpille, maar is nou in remissie, gesond en sterk. Ja, die behandeling was nie maklik nie, maar sy het positief gebly en is daardeur. Ek weet met jou geloof en moedigheid jy dit ook sal oorkom.

Darts girl

In die naam van ons Almagtige Hemelse Vader spreek ek uit dat jy ten volle sal herstel.