Baba-ontvoerders steeds soek

Die polisie is steeds op soek na ʼn Pakistani-egpaar wat Dinsdag ʼn ses maandeoue baba in Bezuidenhoutvallei in Johannesburg ontvoer en sy babaoppasser byna vermoor het.

“Ifeanyi Jones, die kind se pa, het laat Woensdagaand ʼn SMS ontvang waarin die ontvoerders ‘n losprys van R100 000 eis,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, ‘n polisiewoordvoerder, Donderdag gesê. “Daar word vermoed dat die egpaar, met hul drie kinders, steeds in Gauteng is. Die vrou is glo ook swanger,” het Dlamini bygevoeg.

Maroela Media het Woensdag berig die polisie is op soek na die egpaar wat ʼn kamer in die huis, waar die voorval plaasgevind het, gehuur het. “Die paartjie het nog nie hul huurgeld vir Desember 2012 betaal nie. Hulle het vermoedelik die babaoppasser probeer vermoor deur haar keel met ʼn skerp voorwerp af te sny en die baba te vat.”

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting om met hulle in verbinding te tree.

Jones het in The Star ‘n beroep op die egpaar gedoen om die baba ongedeerd aan hulle terug te besorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.