‘n Pakistani-paartjie wat van die ontvoering van ‘n ses maandeoue baba in Bezuidenhoutvallei aangekla word, het Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
“Die saak is tot 21 Januarie uitgestel vir ‘n borgaansoek,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. Die paartjie word van ontvoering en poging tot moord aangekla.
Die oppasser sterk aan in die hospitaal. Die baba, Revelation Jones, is nie beseer nie.
Maroela Media het vroeër berig die polisie het die paartjie Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle die baba glo ontvoer en sy oppasser se keel byna afgesny het. Die paartjie het ‘n kamer in die gesin se huis gehuur. Volgens die polisie het die pa ‘n SMS-boodskap Woensdag ontvang waarin ‘n losprys van R100 000 geëis is. Die polisie het die paartjie opgespoor nadat ‘n wenk van die publiek ontvang is.
Die baba se ouers het drie kinders en verwag glo ‘n vierde.