ʼn Baba dogtertjie is dood en nege ernstig beseer na ʼn taxi Sondag die N3-hoofweg naby Richmond, KwaZulu-Natal, verlaat het en ʼn boom getref het.
“Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en in ʼn boom langs die pad gebots,” het Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, gesê.
Die babatjie het glo tydens die ongeluk op haar ma se skoot gesit en is op die toneel dood verklaar. Die ma het op die voorste passasierssitplek gesit. Die ma is ernstig beseer en moes uit die wrak gesny word. Sy is na die King Edwards-hospitaal geneem.
Van die ander beseerdes is na die RK Khans-hospitaal geneem.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.