Baba sterf toe hy met geboorte op vloer val

Janine Meiring Foto: Facebook

Die departement van gesondheid in Gauteng ondersoek die afsterwe van Janine Meiring se baba wat glo tydens geboorte by ‘n staatshospitaal in Pretoria op die vloer geval het.

“Die saak word uiters dringend ondersoek,” het Simon Zwane, woordvoerder van die departement, gesê. “Ons is nie gelukkig dat dit lyk asof iemand nie ons pasiënt behoorlik behandel het nie en dat dit tot dié tragiese ongeluk gelei het.”

Beeld het berig dat die 33-jarige Meiring op 24 Desember na Kalafong-hospitaal in Atteridgeville gehaas is. Sy was 27 weke swanger. Meiring het aan die koerant gesê die hospitaal het min personeel gehad en dat daar nie ‘n portier of rolstoel beskikbaar gestel is nie. Ná die sonarskandering het die dokter Meiring glo geïgnoreer toe sy hom oor die baba uitgevra het, en het vir haar gesê sy moet terugstap na die verpleegsters toe.

“Ek het gesê ek kon nie, en het begin huil. Die kontraksies was buite beheer. Hy het volgehou dat ek van die bed moet afklim en my afgehelp. Ek het skaars twee treë geneem toe ek die baba se kop in my hand gevoel het. Ek het vir die dokter gesê ek kan sy kop voel, maar hy het gesê ek moet nie daar vat nie, en my hand weggetrek,” het Meiring bygevoeg. “Die baba het toe aangekom en deur my vingers op die vloer geval.”

Meiring sê die baba het só hard te lande gekom dat dit gehop en ‘n tweede keer op sy kop geval het. Die naelstring het geskeur. “Ek het net in ongeloof na die dokter gekyk. Met ‘n glimlag het hy gesê ek moet die baba optel. Hy het niks gedoen om my te help nie.”

Meiring beweer sy het die baba opgetel, wat gesukkel het om asem te haal, en na die verpleegsters toe gehardloop. Die baba het gesterf.

‘n Pediater het aan Beeld gesê die dood kan as gevolg van die kopbesering, bloedverlies weens die geskeurde naelstring, infeksie, of onderontwikkelde longe weens die voortydige geboorte wees.

Meiring sê sy wil hê die dokter moet van sy praktiserende lisensie ontneem word. “Hy behoort nie met kinders of vroue te werk nie,” het sy aan Beeld gesê.

Zwane kon nie bevestig of die dokter steeds aan diens is nie. “Sodra ons die ondersoek afgehandel et, sal die saak by die Raad van Gesondheidsberoepe aangemeld word,” het Zwane gesê.

Die baba se dood volg op ‘n reeks ander sterfgevalle by die George Masebe-hospitaal in Limpopo tydens die feesseisoen. Babas het glo weens behandelbare siektes gesterf, aangesien meeste van die personeel en bestuur met verlof was. ‘n Senior bestuurder is intussen geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Duane van Rhyn ·

Dit is skrikwekkend. Ek het n vriend met n erg serebraal gestremde kind van dieselfde hospitaal. Sy vrou het in kraam gegaan en hulle het haar met pynpille huistoe gestuur en gese daar is niks fout nie. Na haar tweede besoek is sy weer met pille huistoe gestuur.

G Dormehl ·

Absolutely shocking. This doctor does not deserve to practice. I sincerely hope that as with most things in SA these days, it is not swept under the carpet. This type of behaviour is completely unacceptable, especially from someone that has taken a hipocratic oath to care for people?! Justice needs to be served here, Name and shame this doctor and see to it that he’s stripped of being able to practice again. And to the doctor, you’re a disgusting piece of rubbish!

Duane van Rhyn ·

This is the kind of racism we experience in south africa daily.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.