Baba Wade: geen kundige wil glo namens Rudman getuig nie

Marissa Rudman Foto: Masi Losi, Pretoria News

Geen verdere kundiges sal getuig in baba Wade se hofsaak nie.

Marissa Rudman en haar vriend, Nolan Schoeman, wat daarvan aangekla word dat hulle hul babaseuntjie vermoor het, is verlede maand uitgestel om Rudman die geleentheid te bied om ʼn pediater te kry wat namens haar sal getuig. Rudman se regspan het egter Dinsdag aan die hof gesê dat hulle nie ʼn kundige kan kry wat namens haar sal getuig nie.

Rudman en Schoeman ontken beide dat hulle die tweemaande-oue Wade so erg aangerand het dat hy in 2010 aan sy beserings beswyk het. Wade se brein het só erg geswel dat sy skedel begin kraak het. Hy het ook twee gebreekte arms, 22 gebreekte ribbes en groot kneuswonde aan sy kop en liggaam gehad.

Die Staat beweer dat Rudman die baba ʼn paar dae vroeër, teen mediese advies, uit ʼn ander hospitaal verwyder het. Wade was vir brongo-pneumonie behandel, maar Rudman het daarop aangedring dat sy hom self wil ontslaan en het gesê dat sy glo nie tevrede was met die behandeling wat hy ontvang het nie.

Die twee het ook onskuldig gepleit op ʼn klag dat hulle Wade en ʼn ander seun oor ʼn tydperk mishandel het. Die kind het vroeër getuig dat hy gesien het hoe Schoeman die baba oor die kop slaan, maar Schoeman sê die kind lieg en is moontlik deur iemand beïnvloed.

Rudman ontken dat sy ooit gesien het hoe Schoeman die baba mishandel of dat sy dit ooit vermoed het, maar sy het in besonderhede getuig hoe Schoeman haar mishandel het.

Die hofsaak is tot 28 Mei uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.