Baba Wade: Pa erken hy het ma aangerand, nooit baba nie

Nolan Schoeman (32) wat tans onder verhoor is nadat hy glo sy twee maande oue babaseuntjie, Wade, vermoor het, het Woensdag aan die hooggeregshof in Pretoria gesê dat hy die baba se ma aangerand het, maar nooit die kind seergemaak het nie.

Schoeman en sy voormalige meisie, Marissa Rudman (36) word daarvan beskuldig dat hulle Wade in April 2009 vermoor het en ʼn ander kind aangerand het. Wade het aan kopbeserings beswyk ʼn paar dae nadat hy in die Steve Biko-hospitaal, Pretoria, in ʼn kritieke toestand opgeneem is. Schoeman het erken dat hy Rudman aangerand het en selfs haar neus gebreek het, maar dat hy uiteindelik teruggeslaan het nadat sy hom glo herhaaldelik aangerand het. Na Wade se afsterwe was hulle glo in ʼn “hewige argument” betrokke waar sy hom beskuldig het dat hy die baba aangerand het. Hulle het glo na die tyd weer vrede gemaak en saam besluit dat nie een van hulle verantwoordelik is nie.

Schoeman het toe egter ʼn vriend blameer wat kort voor Wade se afsterwe by hulle ingetrek het. Ten spyte daarvan dat hy die man verdink het, het hy nie die man konfronteer of die polisie ingelig nie. Schoeman het erken dat hy en Rudman saam met die man dwelmmiddels gebruik het en dat hulle hom toegelaat het om saam met hulle te bly nadat hulle vir die moord in hegtenis geneem is. Schoeman sê sy geheue is “vaag” weens die dwelmmisbruik. Hy ontken dat dit moontlik is dat hy Wade kon aangerand het terwyl hy onder die invloed was en dit moontlik nie kan onthou nie. “Ek weet in my hart dat ek so iets nooit sou kon doen nie,” het hy gesê.

Nadat Schoeman ondervra is oor ʼn voorval waar hy glo ʼn kind met ʼn bal op die rug getref het en toe ʼn plant in sy mond gedruk het totdat hy naar was, het Schoeman gesê hy het “net grappies gemaak” en dat “almal gelag” het.

Schoeman en Rudman het beide onskuldig gepleit op die moord en twee aanklagte van kindermishandeling. Regter Cynthia Pretorius het die saak tot 15 Mei uitgestel sodat Rudman ʼn pediater kon kry om namens haar te getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.