Baba Wiehan: Verdagtes nie gereed met borgaansoek

Wiehan Botes. Foto: Facebook

Die twee mans wat vandag in die Delmas-landdroshof verskyn het in verband met die moord op die 5 maande oue Wiehan Botes en sy dagmoeder Magrietha de Goede (66), se saak is tot 27 Julie uitgestel.

Enock Mbele (47) en Lazarus Mabena (54) het Donderdagoggend vlugtig in die hof verskyn. Hulle prokureur het aangevoer dat hulle nie gereed is om met ‘n borgaansoek voort te gaan nie.

Mbele en Mabena is op 29 Mei in hegtenis geneem, sowat ʼn week na die moord op Botes en De Goede. Geroofde goedere, waaronder juwele en twee selfone, is glo in hul besit gevind. Die polisie soek steeds na De Goede se tuinier, Themba Ephraim Mahlangu (29), wat moontlik kan help met die ondersoek.

Vele bekendes het ná die moord besluit om op 19 Junie ʼn optog in Pretoria te hou om teen misdaad te betoog.

Wiehan se ouers, Wiets en Rita, gaan by die optog aansluit. Bekendes soos Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Gerrie Pretorius, Flooze (Sorina), Izak Davel, Derick Hougaard, Arno Jordaan, Corlea Botha en Dozi gaan ook saam stap.

Alle Suid-Afrikaners word uitgenooi om Dinsdag om 10:00 vanaf die Pretoria Kunsmuseum tot by die Uniegebou saam te stap teen geweldsmisdaad. Deelnemers word versoek om swart klere met ʼn wit serpie, “bandana” of hoed te dra. Die swart klere simboliseer dat ons as Suid-Afrikaners rou oor elke persoon wat vermoor is of deur geweldsmisdaad geraak is, terwyl die wit simboliseer dat daar in vrede vir vrede gestap word. ’n Memorandum sal aan die presidensie oorhandig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.