Baba Wiehan: Verdagtes se saak weer uitgestel

Wiehan Botes. Foto: Facebook

Die twee mans wat vandag in die Delmas-landdroshof verskyn het in verband met die moord op die 5-maandeoue Wiehan Botes en sy dagmoeder Magrietha de Goede (66), se saak is tot volgende Donderdag uitgestel.

Enock Mbele (47) en Lazarus Mabena (54) moet weer op 14 Junie in die hof wees vir ʼn formele borgtog aansoek. Hulle is tydens hul eerste hofverskyning borgtog geweier ná die saak vir verdere ondersoek uitgestel is.

Mbele en Mabena is op 29 Mei in hegtenis geneem, sowat ʼn week na die moord op Botes en De Goede. Geroofde goedere, waaronder juwele en twee selfone, is glo in hul besit gevind. Die twee verdagtes bly in Daveyton, sowat 30 km van Delmas. Die polisie soek steeds na De Goede se tuinier, Themba Ephraim Mahlangu (29), wat moontlik kan help met die ondersoek.

DA-ondersteuners het tydens die hofsitting ʼn vreedsame nie-rassistiese betoging buite die hof gehou. Die DA het betoog teen die regering se onvermoë om sy inwoners van landelike gebiede te beskerm en wil president Jacob Zuma maan om die party se landelike beskerming strategie te implementeer. Hulle vra ook dat die polisie se eenheid vir grens- en landelike veiligheid weer ingestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.