Babatjie sterf ná sy in warm badwater brand

Argieffoto

ʼn Twee maandeoue babatjie van Gezina, Pretoria, is Dinsdag in die Steve Biko-hospitaal dood nadat sy Maandagaand in warm badwater gebrand het.

ʼn Vriendin van die gesin het aan die Hero Burn Foundation vertel hoe die fratsongeluk plaasgevind het wat die babatjie se lewe geëis het, en haar tweejarige suster ook met erge brandwonde gelaat het.

“Die ma was glo in die kombuis doenig toe die tweejarige sussie ewe onskuldig haar jonger sussie wou bad, sonder dat die ma daarvan geweet het. Na wat verneem word, het die sussie nie geweet hoe warm die badwater was nie, en het die babatjie glo in die amper kokende water geplaas,” het die vriendin gesê.

Die ouer sussie het begin skreeu en na haar ma toe gehardloop en die brandwonde op haar arms aan haar ma gewys. Die ma het toe die babatjie hoor skreeu en in die bad gevind. Sy het 100% brandwonde opgedoen en is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas. Die ouer sussie is ook in die hospitaal opgeneem.

Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig die babatjie is vroeër die oggend oorlede. “Ons vra almal om asseblief vir die gesin, familie en vriende te bid, en vir die spoedige herstel van die ouer sussie,” het Du Plooy gesê.

Die Hero Burn Foundation is ʼn nie-winsgewende organisasie wat omsien na brandslagoffers in nood en is afhanklik van donasies om brandsorgprodukte aan te koop. Hulle bied ook deurlopende emosionele ondersteuning aan brandslagoffers en hul gesinne. Vir meer inligting oor die organisasie besoek hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marlene45 ·

Aggenee, moet nou asseblief nie weer die ma blameer nie, heel duidelik ken jy nie kleuters nie. Ek het drie grootgemaak, en kan maar net elke dag dankie sê dat ek hulle sonder letsels groot gekry het. die een oomblik is hulle hier by jou en die ander oomblik is hulle weg besig met hul eie mission sonder om te dink wat die gevolge gaan wees. Mamma, my hart gaan vir jou uit, dit is nie slegte ma’s wat so iets oorkom nie!!!

Elza ·

Sjoe dis hartseer. Ek is ouma van twee peuters en twee babas en pas al vier bedags op.. glo my dit is n stryd om die peuters weg te hou van die babas af. my oe moet heeltyd op hulle wees. Jammer vir die mamma. Met genade en gebede sal jy gedra word.

Cecil ·

Ek stem met Derick saam …. en ja KLEUTERS (nie peuters nie) is doenig ja , soveel meer moet die ma dan op en wakker wees …. dan het ek een helse probleem met die woord “PEUTER” klink vir my na ‘n dowwe nikseggende woord wat eerder neerhalend is teenoor ‘n kleuter … wens die idiotiese gebruik van die woord wil verdwyn uit ons taalgebruik uit , want as ek die woord peuter sien , dan dink ek aan ‘n pedofiel wat met kleuters peuter … as jy wat lees verstaan wat ek bedoel . Net vir inligting ek is die pa van ses kinders as julle dalk wil iets op plak van “Jy het duidelik geen kleuters nie”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.