Babatjie veg om lewe ná hartaanval

Chanté Nel

Chanté Nel, ʼn 17 maande oue babatjie van Randburg, is in ʼn ernstige toestand in die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg nadat sy onlangs ʼn hartaanval gekry het.

Volgens Corlia Laney, die Nel-gesin se woordvoerder wat self ook onlangs haar dogtertjie Chloe* aan die dood moes afstaan, was Chanté vier dae oud toe sy haar eerste hartoperasie ondergaan het.

Laney het Vrydag aan Maroela Media gesê Chanté, die babadogtertjie van Ulandi en Bertus Nel, is op 5 Januarie 2012 in die Coronation-hospitaal in Johannesburg gebore.

“Sy het op 15 maande begin om siek te raak en was baie in en uit die hospitaal. Toetse is gedoen en die uitslae het gewys dat haar witbloedselle nie ontwikkel soos dit moet nie en daarom het sy geen immuunstelsel nie,” het Laney gesê.

‘n Angiogram is op Chanté gedoen wat getoon het dat ʼn gaatjie wat sy in haar hart het, nie met vorige prosedures suksesvol toegemaak kon word nie. Sy sou op 11 Junie weer ʼn hartoperasie ondergaan, maar het ʼn dag voor dit ʼn hartaanval gekry.

“Sy is gestabiliseer en sou die volgende dag ʼn operasie ondergaan, maar dit is vervroeg omdat sy opgehou asemhaal het. ʼn Noodoperasie is gedoen wat ses ure geduur het. Daarna het Ulandi en Bertus die nuus ontvang dat die operasie goed verloop het,” het Laney bygevoeg.

Laney sê ʼn neuroloog het Chanté op 12 Junie ondersoek en gesê dit wil voorkom asof sy konsentrasie verloor en begin epilepsie kry. “Haar linker armpie funksioneer nie meer saam die res van haar liggaam nie. In werklikheid funksioneer sy nou soos ’n ses maande oue baba.”

Chanté het stelselmatig verbeter, maar verlede Vrydag het haar ouers die nuus gekry dat sy moontlik kan blind wees. Intussen is Chanté ook gediagnoseer met die Adeno-virus wat haar longe aanval.

Chanté het ook Maandag ‘n beroerte gehad. “Uitslae wys dat ʼn gedeelte van die regterkant van haar brein erg beskadig is, en dat daar ʼn groot abses aan die linkerkant van haar brein was.”

Sy het weer ‘n noodoperasie ondergaan om vloeistof van die abses in haar brein te dreineer.

Toetse wat vandag gedoen is lyk egter positief. “Die dokter sê haar sig sal moontlik terugkom. Baie van die vloeistof op haar brein is gedreineer en sover lyk dinge goed. Hierdie wonderwerkie van God het almal se gebede nodig. Ons moet saamstaan en vir God vra om ‘n wonderwerk te laat gebeur. Die dokters sal Maandag weer toetse doen, waarna hulle sal besluit wat volgende moet gebeur,” het Laney bygevoeg.

Volgens Laney is die gesin se medies tans uitgeput en sukkel die ouers om al die hospitaalomkostes te betaal. Daar is ʼn spesiale trustrekening vir Chanté gestig om met die mediese onkostes te help. Vir meer inligting besoek haar webwerf hier of skakel Anna Eksteen by 082 294 6799.

* Die 17 maande oue Chloe Laney is op 29 Desember verlede jaar oorlede ná ʼn lang stryd.. Baba Chloe het vinnig mense se harte aangegryp en daar is landswyd vir haar gebid.

Lees hier meer oor Baba Chloe:
Baba Chloe: Begrafnisreëlings bekend
Baba Chloe oorlede
Baba Chloe word van ventilator gespeen
Ouers vra gebed vir siek dogtertjie voor troue

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.