Babatjie wat in kar gelos is, ontslaan

Die vier maande oue babadogtertjie wat in die Life Springs Parkland-kliniek opgeneem is nadat sy Woensdag vir ure in ʼn voertuig in Springs gelos is, is laat Donderdagmiddag ontslaan.

Dr Tebogo Mphake, die kliniek se bestuurder, het aan Maroela Media bevestig die babatjie het goed herstel en was reg om huis toe te gaan.

Maroela Media het vroeër berig dat die voertuig in Sewendestraat in die son parkeer was. ʼn Voetganger het die babatjie omstreeks 10:30 opgekrul in ʼn bondeltjie gesien lê. Die polisie is ontbied, en hulle het die voertuig se venster stukkend geslaan om die babatjie uit te kry. Met paramedici se aankoms was die babatjie in ʼn ernstige toestand as gevolg van die uitermatige hitte.Sy was gedehidreer en is na die kliniek geneem vir verdere behandeling.

Kaptein Johannes Ramphora, ʼn woordvoerder van die Springs-polisie, sê die ma is na die voorval in hegtenis geneem en van kinderverwaarlosing aangekla. “Sy het berou getoon en is op ʼn waarskuwing vrygelaat sodat sy na haar siek kind in die hospitaal kan omsien,” het Ramphora Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Die babatjie was tussen twee en drie uur in die voertuig. As dit nie vir die voetganger was wat die babatjie gesien het nie, sou sy moontlik nie meer gelewe het nie. Die saak word egter nog steeds ondersoek en verklarings word van ooggetuies geneem. Die departement van welsyn word ook by die ondersoek betrek. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal ʼn hofdatum vir die ma bepaal word,” het Ramphora gesê.

Die naam van die ouer mag nie bekend gemaak word alvorens sy in die hof verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lizan ·

Ek hoop van harte dat hierdie kind nie weer in die ma se toesig geplaas is nie. Hierdie vrou het duidelik nie die verstand om te weet dat jy nie ‘n baba alleen in die motor los nie!!

LILLY DE BEER ·

So ma verdien nie om ‘n kind te he nie, want as sy iets gevoel het vir haar kind sou sy nie haar kind in die kar gelos het nie. Ek hoop die welsyn vat die kind weg en gee dit liewer vir iemand wat graag die kind wil he!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.