Babatjie wat in kar gelos is sterk aan

‘n Vier maande oue babadogtertjie sterk in die Life Springs Parkland-kliniek aan nadat sy Woensdag vir ure in ʼn voertuig in Springs gelos is.

Maroela Media het gister berig dat die voertuig in Sewendestraat in die son parkeer was. ʼn Voetganger het die babatjie omstreeks 10:30 opgekrul in ʼn bondeltjie gesien lê. Die polisie is ontbied, en hulle het die voertuig se venster stukkend geslaan om die babatjie uit te kry. Met paramedici se aankoms was die babatjie in ʼn ernstige toestand as gevolg van die uitermatige hitte.Sy was gedehidreer en is na die kliniek geneem vir verdere behandeling.

Kaptein Johannes Ramphora, ʼn woordvoerder van die Springs-polisie, sê die ma is na die voorval in hegtenis geneem en van kinderverwaarlosing aangekla. “Sy het berou getoon en is op ʼn waarskuwing vrygelaat sodat sy na haar siek kind in die hospitaal kan omsien,” het Ramphora Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Die babatjie was tussen twee en drie uurin die voertuig. As dit nie vir die voetganger was wat die babatjie gesien het nie, sou sy moontlik nie meer gelewe het nie. Die saak word egter nog steeds ondersoek en verklarings word van ooggetuies geneem. Die departement van welsyn word ook by die ondersoek betrek. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal ʼn hofdatum vir die ma bepaal word,” het Ramphora gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.