Badsout vir tik aangesien en nou is hy sonder paspoort

ʼn Britse toeris sukkel om sy paspoort van binnelandse sake terug te kry nadat polisie die badsout in sy bagasie as tik aangesien het, het Beeld Donderdag berig.

Peter Parnell (34), is bykans ʼn week gelede deur die landdroshof in Kaapstad vrygespreek. Hy is op 29 Februarie in hegtenis geneem toe polisie vermoed het dat hy 9.5 kg kristal metamfetamien, algemeen bekend as tik, in sy besit gehad het. David Mbuzwana, Parnell se prokureur, het aan die dagblad gesê dat toetse op die stof wat in sy besit gevind is, bevestig het dat dit badsout is. Die departement van binnelandse sake het Parnell egter Vrydag weer in hegtenis geneem en ʼn lasbrief versoek om hom te deporteer. Dit is egter van die hand gewys, aangesien Parnell bewys kon lewer dat hy op 23 Maart die land sal verlaat. “Sedert Maandag het die departement egter geweier om my paspoort terug te gee,” het Parnell gesê. Volgens hom wou die departement hê dat hy ʼn vorm moet onderteken wat aandui dat hy gedwing is om die land te verlaat. “Ek wil huis toe gaan. Hulle hoef my nie te dwing nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.