Bafana Bafana-ondersteuners bestook glo Zambië se bus met klippe

Kennede Mweene, doelwagter van Zambië net ná die aanval Foto: FAZ Facebook

Twee seuns, onderskeidelik 12 en 13 jaar oud, is in polisie-aanhouding nadat hulle Woensdagaand glo Zambië se sokkerspan se bus met klippe bestook het.

“Ons bevestig die voorval het plaasgevind en die oortreders wat die bus met klippe gegooi het, twee jong seuns, is in polisie-aanhouding,” het Dominic Chimhavi, woordvoerder vir die SA Football Association (Safa), gesê.

Zambië se sokkerspan se bus is met klippe bestook ná ʼn wedstryd teen Bafana Bafana by Soccer City Woensdagaand. Suid-Afrika het die wedstryd 1-0 verloor.

Volgens ʼn twiet deur die Zambian Football Association (FAZ), is Zambië se doelwagter, Kennedy Mweene, wat ook vir Free State Stars in Suid-Afrika speel, beseer. “Dis baie jammer dat die bus met klippe bestook is, en Kennedy Mweene het ʼn kopbesering opgedoen. Hy het steke ontvang, en is reg, maar die voorval is ʼn skande,” het FAZ vroeg Donderdagoggend getwiet.

Chimhavi sê ʼn saak is by die polisiestasie in Booysens aanhangig gemaak. Hy het bevestig dat ʼn busvenster gebreek het en een speler beseer is. “Safa keur nie hierdie gedrag goed nie. Die wedstryd was ter ere van Nelson Mandela gespeel en hierdie mense is nie by ons stadions welkom nie. Hulle moet die wedstryde by hul huise kyk,” het Chimhavi gesê. “Mense kom na die wedstryde saam met hul gesinne en hierdie gedrag is onaanvaarbaar. Dit is nie in die gees van Fifa se regverdige wedstrydbeleid of die Nelson Mandela Uitdaging nie.”

Die polisie in Gauteng sê hulle is bewus van die voorval, maar kon nie dadelik kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.