Bafana-sokkerspeler rand glo man aan

Edward Manqele

Edward Manqele

Edward Manqele, doelskopper vir Bafana Bafana, het glo ʼn ondersteuner aangerand en hom bewusteloos gelaat, het die Sunday World berig.

“ʼn Saak is oopgemaak, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het kapt. Disebo Selepe, woordvoerder vir die polisie in Gauteng, aan die koerant gesê.

Die voorval het op 26 Desember in Kagiso aan die Wes-Rand plaasgevind.

Die vermeende slagoffer, Tsepo Khumalo, het aan die koerant gesê Manqele en sy vriende het by ʼn huis opgedaag waar hy en ander Kersfees gevier het. Khumalo het glo sy hand uitgestrek om die sokkerspeler se blad te skud en gesê “Geseënde Kersfees”.

“Hy het my in my gesig geklap, en toe ek val het hy my geskop en my toe met ʼn bottel Hennessy-konjak geslaan,” het Khumalo aan die Sunday World gesê. Die koerant het ʼn foto van die kneusplekke aan sy gesig gepubliseer. Sy oog was toegeswel.

Manqele se agent, Karabo Mathang Tshabuse, het die voorval in ʼn verklaring aan die koerant bevestig, maar het ʼn ander weergawe verskaf. “Terwyl hy [Manqele] by sy kar ingeklim het, het ʼn onbekende man hom oorval wat homself as ʼn fisiese bedreiging voorgehou het en hy het skeltaal gebruik,” het Tshabuse gesê. “Manqele het nie ʼn ander keuse gehad as om homself te verdedig nie, en het die man ʼn opstopper gegee om weg te kom van sy voertuig af. Hy het vir sy lewe en die veiligheid van sy meisie en haar vriendin gevrees.”
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.