Baie Kovsies ly honger

Argieffoto.

Argieffoto.

‘n Verslag van die Universiteit van die Vrystaat het skokkende statistiek bekend gemaak wat bewys dat byna twee derdes van die studente aan die universiteit nie genoeg geld het om kos te koop nie en gedurende die kwartaal honger ly.

Die studie, wat intern deur die universiteit se Departement Voeding en Dieetkunde onderneem is, is uitgevoer in reaksie op toenemende internasionale kommer dat studente wêreldwyd nie genoeg het om te eet nie. Terwyl studies reeds in die VSA en Australië gedoen is, was daar geen soortgelyke navorsingsresultate in Suid-Afrika nie.

“Daar is reeds baie studies gedoen oor die impak van swak voeding op skoolkinders,” het dr. Louise van den Berg, senior dosent in die departement voeding en dieetkunde Vrydag gesê, “maar byna geen navorsing oor universiteitstudente nie. Suid-Afrika is oor die algemeen ‘n voedselonseker land, en daarom wou die universiteit vasstel hoe wydverspreid hierdie probleem onder ons studente is.”

Die redes wat deur studente gegee word verwys altyd terug na ‘n gebrek aan geld, aangesien baie studente ook hulle gesinne onderhou. Sommige studente het erken dat hulle nie oor die nodige kennis beskik om hulself behoorlik te voed nie, sommige het erken dat hulle geld leen om kos te koop en sommige het selfs erken dat hulle kos steel om te oorleef.

“Hierdie navorsing het bevestig wat ons reeds lankal vermoed,” noem Van den Berg.

Volgens ‘n aantal studente was hulle onwillig om van die universiteit se voedingskema gebruik te maak, omdat hulle skaam was om te erken dat hulle nie geld het om kos te koop nie.

Hierdie studie is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en beklemtoon die feit dat veral tersiêre studente kwesbaar is wanneer dit by voedselsekerheid kom. Studente het dikwels fyn voetwerk nodig om hulle studies af te wissel met hul rol as broodwinner.

‘n Klein ligstraaltjie vir studente wat voedselonseker is, is die No Student Hungry-program wat ‘n voedselbeurs aan kwalifiserende studente verskaf.

Hierdie program, wat oorspronklik deur prof. Jonathan Jansen, visekanselier en rektor van die UV, begin is en nou deur Grace Jansen en Karen Buys bestuur word, bied ‘n klein toelae van ongeveer R30 per dag aan honger studente met ‘n gemiddelde akademiese prestasie van 60% en meer. Hierdie maatstaf ontmoedig aanspraakdenke en ontwikkel ‘n sterk sin van verantwoordelikheid by diegene wat voordeel trek uit die voedselbeurs.

Melanie, ‘n tweedejaarstudent in geografie en omgewingsbestuur, sowel as enkelma, is ‘n begunstigde van die NSH-program. “Hierdie beurs help my om elke dag ‘n gebalanseerde maaltyd te kry. Dit is een minder bekommernis vir my. Ek droom daaroor om my studies te voltooi sodat ek onafhanklik kan wees en vir my seun die lewe te gee wat hy verdien.”

Bron: ufs.ac.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius Becker ·

As studente het ons harde bene gekou tussen klasse bywoon, saans werk as kelner om kos op die tafel te sit en klas gelde te betaal – en vandag doen hulle ‘n studie daar oor – shame !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.