“Baie sterf van vrot water in SA”

Argieffoto

Argieffoto

Die TLU SA het Dinsdag gewaarsku dat honderde mense in Suid-Afrika sterf weens besoedelde water.

“Honderde mense, indien nie duisende nie, sterf as gevolg van besoedelde water in die land,” het Louis Meintjes, president van TLU SA, gesê. Meintjes waarsku dat die land afstuur op ‘n situasie dat die krane in die huise wel water sal lewer, maar dat daardie water totaal onbruikbaar sal wees. “As die Staat homself as die beskermer van die water wil aanstel, moet hy ook toesien dat hy daardie rol vervul. Nou word ons gedwing om vir vuil en onbetroubare water te betaal en dit is onaanvaarbaar.”

“Die landbou het ook ‘n grondwetlike reg op skoon water om voedsel te produseer. Die regering sal moet besef dat die gebeure verlede week in Brits net die oortjies van die seekoei sal wees in vergelyking met wat kan kom as hy nie vinnig ingryp nie,” het Meintjes bygevoeg. “Nadat die water na Britse se woongebiede herstel is, het inwoners juis gekla dat dit water nie drinkbaar was nie. Dit is juis die probleem waarmee die land, en landbou, sit. Waterbronne, wat op sigself reeds skaars is, word toenemend besoedel.”

Volgens Meintjes het die TLU SA ʼn aantal jaar gelede die saak reeds op die hoogste vlak aangespreek en selfs strafregtelike klagtes teen betrokke ministers gelê wat volgens die organisasie hulle plig versaak en nie toesien dat waterbronne beskerm word teen besoedeling nie. “Ter wille van voedselsekerheid en voedselveiligheid is dit krities belangrik dat water skoon moet wees. Talle boere kan nie meer rivierwater of selfs boorgatwater gebruik vir besproeiing of vir veesuiping nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.