Bakkery-eienaar kan dalk ooggetuies teiken

Shaun Tuna, ʼn bakkery-eienaar wat van poging tot moord aangekla word, se borg is Maandag in die Protea-landdroshof afgekeur, het The Star Dinsdag berig.

Tuna, van KJ Foods and Nature’s Harvest, het Maandag saam met vyf van sy werknemers op twee aanklagte van poging tot moord in die hof verskyn. Frans Kola, die ondersoekbeampte, het by die borgverhoor gesê ooggetuies is bekommerd dat, indien Tuna op borg vrygelaat sou word, hy hulle kan doodmaak.

Een van Tuna se werknemers, Polite Dlamini, is glo gemartel nadat hy daarvan beskuldig is dat hy deel was van ʼn rooftog by die bakkery. Dlamini is glo geskok, sy geslagsdele is met ʼn sigaret gebrand en hy is gesmoor en verwurg. Hy is toe in hegtenis geneem vir roof, maar is op 31 Mei vrygespreek.

Volgens die verslag is ʼn ooggetuie tot die beweerde marteling, Muhammad Hussein Baloch, glo met ʼn pompaksie-haelgeweer geskiet.

Die staat het nie borg vir Tuna se medebeskuldigdes teengestaan nie en hulle is op R1 000 borgtog elk vrygelaat.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.