Balju lê beslag op onderwys-voertuie

Argieffoto

Argieffoto

Die balju het beslag gelê op meer as 700 voertuie van die departement van onderwys in KwaZulu-Natal nadat die departement nie beloofde beurse aan studente uitbetaal het nie, berig Rapport.

Die provinsiale departement het glo al die afgelope jaar lank versuim om meer as R36 miljoen beursgeld aan die Sants Private Higher Education Institution uit te betaal. Dit is die studiegeld van meer as 1 000 studente.

“Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het op 26 November beslis dat die departement verantwoordelik is vir die beurshouers se studiegeld,” het Jaco Bernard, besturende direkteur van die private onderwyskollege, aan Rapport gesê.

Die departement het in Oktober 2012 altesaam 1 260 studente gekies om by Sants te studeer. Die eerste betaling van die totale beursbedrag van R30 miljoen was in Januarie 2013 betaalbaar.

Die departement het na bewering SMS’e aan studente gestuur waarin hulle gewaarsku word om slegs in die teenwoordigheid van ʼn departementele amptenaar met Sants te kommunikeer. Die departement het glo ook gedreig om nie hul studiegeld te betaal nie indien hulle hul studies by Sants sou voortsit.

Rapport kon tot dusver nog nie kommentaar van die departement af kry nie.

Sants bied ʼn vier jaar B.Ed-kursus vir onderwysers in die grondslag- en intermediêre fase aan. Dit word by nege sentra in KwaZulu-Natal aangebied.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.