Ballet-danser pleit onskuldig op suur-aanval

Pavel Dmitrichenko

Pavel Dmitrichenko

‘n Balletdanser van Rusland het Dinsdag onskuldig gepleit in die hoëprofiel-hofsaak in Moskou oor ‘n gruwelike suur-aanval op die groep se kunste-direkteur, Sergei Filin.

“Ek verstaan nie die kern van die aanklag nie,” het Pavel Dmitrichenko, aan die distrikshof in Moskou gesê. “Ek aanvaar nie volle skuld nie.”

‘n Aanvaller het in Januarie buite sy woonstel swaelsuur in Filin se gesig gegooi. Hy het erge brandwonde aan sy oë en vel opgedoen.

Ondersoekbeamptes het Dmitrichenko daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein was van die aanval op die 43-jarige Filin en het hom, die aanvaller en die bestuurder van die wegkomvoertuig, aangekla van aanranding om ernstige liggaamlike skade aan te rig. Hulle voer aan Dmitrichenko was ontevrede met die manier waarop Filin dansers vir rolle gekies het en finansiële bonusse onder die groep uitgedeel het.

Die 29-jarige beskuldigde het vir sy ondersteuners geglimlag.

Die saak het ‘n bitter interne magstryd by die Bolshoi aan die lig gebring en ondersteuners van die wêreld se top balletmaatskappye geskok.

Die staatsaanklaer het Dmitrichenko daarvan beskuldig dat hy ‘n werklose oud-gevangene, Yury Zarutsky, oorgehaal het om swaelsuur in Filin se gesig te gooi. Dmitrichenko het vroeër erken hy het Zarutsky slegs versoek om Filin te slaan.

Dmitrichenko het in die hof gesê hy het geweier om ‘n leuenverklikkertoets te ondergaan, aangesien hy nie sy noodlot “aan ‘n masjien wou oorlaat” nie.

‘n Derde man, die werklose Andrei Lipatov, word daarvan beskuldig dat hy die motor bestuur het wat die aanvaller na die toneel vervoer het. Hy pleit onskuldig.

Die drie mans kan tot 12 jaar tronkstraf gevonnis word indien hulle skuldig bevind word.

Zarutsky voer aan hy het alleen opgetree en hy is gemotiveer deur negatiewe stories wat Dmitrichenko aan hom vertel het. Hy was verontwaardig oor die ballet-wêreld, veral omdat hy wou hê sy dogter moet ‘n ballerina word. “Ek erken gedeeltelik skuld. Ek aanvaar dat ek Filin aangeval het, maar ontken dat dit deel was van ‘n komplot saam met Pavel Dmitrichenko en Andrei Lipatov,” het Zarutsky Dinsdag in die hof gesê.

Die verhoor is tot Donderdag uitgestel. Filin, wat nog steeds sukkel om uit een oog te sien, sal na verwagting op 6 November getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.