Bankkoste stagneer

Paul Joubert, senior navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut. Foto: Reint Dykema.

Vier uit die vyf groot handelsbanke in Suid-Afrika se goedkoopste hoofstroom-rekeninge se koste het die afgelope jaar feitlik konstant gebly. Standard Bank was die enigste noemenswaardige uitsondering omdat dié bank sy mededingendste hoofstroom-rekening ná slegs een jaar vir nuwe kliënte gesluit het. Dít is enkele bevindings in die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se vierde jaarlikse bankkosteverslag wat die bankkoste van verskillende persoonlike bankrekeninge van die vyf groot handelsbanke, naamlik Absa, FNB, Standard Bank, Nedbank en Capitec, met mekaar vergelyk.

Paul Joubert, senior navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê Standard Bank se “Achiever Electronic”-rekening kon in 2012 goed met die ander banke se bondel-rekeninge meeding. “Standard Bank se besluit om met dié rekening weg te doen, het veroorsaak dat die bank se “Elite Plus”-rekening nou die duurste van die vyf banke se goedkoopste hoofstroom-rekeninge is. Die ander vier banke het hul goedkoopste hoofstroom-rekeninge se koste feitlik onveranderd gehou.”

Die verslag wys onder meer daarop dat daar by die meeste banke ʼn sterk neiging tot bondel-rekeninge ten koste van “pay as you transact”-rekeninge is. Joubert sê dit is besig om kliënte se keuses te beperk. “Minder keuses is nie noodwendig ʼn slegte ding nie, maar dit blyk wel dat hierdie neiging besig is om bankkoste op ʼn vlak van ongeveer R80 tot R100 te laat stagneer. By die ‘Groot Vier’-banke het die fooie van elke individuele transaksie op die “pay as you transact”-rekeninge so hoog geword, dat kliënte eintlik gedwing word om eerder bondel-rekeninge oop te maak. Capitec bied tog steeds ʼn goedkoper “pay as you transact”-alternatief met minimale fooie per transaksie.”

Sedert 2012 beskik al die ‘Groot Vier’-banke oor nuwe rekeninge wat op mense met ʼn lae inkomste gemik is – ʼn verskynsel wat klaarblyklik deur Capitec se sukses in hierdie marksegment gemotiveer is. Volgens Joubert het geen van die ander banke voorheen werklik daarin geslaag om op koste hier met Capitec mee te ding nie. “FNB het egter vanjaar sy “EasyAccount” se fooie aansienlik verlaag en hierdie rekening is nou vir die eerste keer daartoe in staat om Capitec op koste te klop. Absa se “Transact”-rekening ding ook goed met Capitec op koste mee, maar die “Transact”-rekening bied nie internetbankdienste nie en rekeninghouers word tot R2 000 se transaksies per dag beperk, wat hierdie rekening vir talle mense heeltemal onprakties maak.”

Die SNI se bankkosteverslag is vanjaar baie meer gebruikersvriendelik as voorheen. Dit dien as ’n goeie riglyn vir mense wat hulle bankkoste wil evalueer, maar elke individu se bankgewoontes is uniek. Mense moet dus steeds finale besluite op grond van hulle eie bankgewoontes en voorkeure neem.

Laai die volledige verslag af: klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.