Barkley-Oos-plaasaanval: Nuwe versoeke om plaasmoorde te laat prioritiseer

Monument_Plaasmoorde-320x165Die gemeenskap van Barkley-Oos in die Oos-Kaap het die burgerregte-organisasie AfriForum genader om in te gryp nadat ’n bejaarde egpaar Woensdagoggend wreed op hulle plaas in die distrik vermoor is.

“AfriForum het opnuut ’n beroep gedoen op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, om plaasmoorde te laat prioritiseer,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “Die organisasie sal self ook inisiatief neem deur plaaslike veiligheidstrukture in die Oos-Kaap te vestig.”

Maroela Media het vroeër berig die gemeenskap van Barkley-Oos is geskok gelaat nadat Frans Dawid de Villiers en sy vrou, Rallie de Villiers, vanoggend omstreeks 04:00 vermoor is. De Villiers se broer, Dawie, is ook tydens die aanval met ’n mes gesteek en veg tans vir sy lewe in die hospitaal.

Roets het bygevoeg dat die organisasie in November vanjaar ’n voorlegging oor die realiteit van plaasmoorde in Suid-Afrika by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève sal voorlê. Die publiek word aangemoedig om die petisie, wat hierdie voorlegging sal vergesel te ondersteun deur die webwerf, www.hoelanknog.co.za, te besoek. “Hoe lank moet ons nog vir die regering se ingryping vra? Mthethwa se gebrek aan optrede grens aan aandadigheid,” het Roets gesê.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum het bygevoeg dat gemeenskappe nie net op regeringsingryping moet wag nie, maar ook pro-aktief moet optree. “Daarom is AfriForum besig om plaaslike gemeenskapsveiligheidsnetwerke regoor die land te stig. Ons sal die gemeenskap van Barkley-Oos ook in die komende weke besoek en bystand bied,” het Cameron gesê.

Intussen het die Christen-Demokratiese Party (CDP) Woensdag in ʼn verklaring gesê hy veroordeel die plaasmoorde. “Met nóg ‘n plaasaanval, het die CDP homself opnuut verbind om die minister van polisie verantwoordelik te hou vir hierdie aanvalle. Die minister weier nog steeds om dié tragedie tot prioriteitsmisdaad te verklaar,” het ds. Theunis Botha, leier van die CDP, gesê. “Met Julius Malema se uitsprake oor grondbesit, wat nie deur feite gestaaf word nie, is die atmosfeer gelaai, en werk die hele kwessie erg polariserend op die land in sy geheel in. Dit moet egter onthou word dat daar tydens elke plaasmoord baie mense negatief geraak word.”

Lees ook:
Plaasaanval: Bejaardes vermoor, seun kritiek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ek ·

Daar is net nie ‘n end aan hierdie gemors se moord en verkragting drange nie. Ons moet die petisie ondrsten.

Elize ·

Dan wil hulle vir Steve aan klae,oor 10 Oktober.Wie is vir hierdie bejaardes en Boer se aanval verantwoordelik.Definitief nie n wit man of wit Boer nie.Hoeveel ou mense moet nog vermoor word.Dit lyk of hulle n heksejag op ons Boere en bejaardes maak.
Skande,skane regering.n Mens se bloed kook,en daar word net mooi niks aan gedoen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.