Basson se verhoor voortgesit

Wouter Basson tydens die begin van sy verhoor Maandag by die Raad op Gesondheidsberoepe. Foto: SAPA

ʼn Ondersoek na beweerde onetiese optrede deur die biologiese oorlogskenner, Wouter Basson, sal Woensdag vir ʼn derde dag in Pretoria voortgaan.

Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) ondersoek Basson se optrede terwyl hy hoof was van Project Coast, die weermag se destydse projek vir chemiese en biologiese oorlogvoering . ʼn Praktiserende internis en lektor aan die Universiteit van Minnesota, Steven Miles, het Dinsdag getuig dat Basson teenstrydig opgetree het met die wette van menslikheid. Hy sê Basson het op onetiese wyse sy mediese lisensie behou terwyl hy toetse, wat deel was van dié program gemonitor het. Volgens die klagstaat het Basson kalmeermiddels soos Mandrax en Ecstasy vir die apartheidsregering vervaardig. Basson se verhoor is Maandag na byna drie jaar hervat. Hy staar ses aanklagte van onetiese of onbehoorlike gedrag in die gesig. Die RGB het egter Maandag twee van die klagte teruggetrek. Die eerste aanklagte wat teruggetrek is hou verband met Basson se aanvaarding destyds van ʼn aanstelling deur die Geneesheer-Generaal as projek-offisier van chemiese en biologiese oorlogsnavorsing. Die tweede klag is dat Basson destyds betrokke was by die gebruik van geriewe waar chemiese middels gebruik is

Die aanklagte is in 2007 teen Basson aanhangig gemaak. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het verlede jaar ʼn aansoek deur Basson om die klagte ter syde te stel van die hand gewys. Indien Basson skuldig bevind word kan hy ʼn boete opgelê word of selfs van die register geskrap word. Basson is in 2002 vrygespreek op aanklagte van apartheidsmisdade. Hy is deesdae ʼn praktiserende kardioloog

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.