“Basta met strenger immigrasiewette, pas bestaandes behoorlik toe”

paspoort“Suid-Afrika het nie behoefte aan ʼn nuwe immigrasiewet nie, maar aan die daadwerklike toepassing van die bestaande wet, doeltreffende grensbeheer en effektiewe, korrupsievrye dienslewering deur die departement van binnelandse sake.” Dit is die reaksie van AfriForum op die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, se versoek om strenger immigrasiewette. Mantashe se verklaring is uitgereik na aanleiding van die aanval op die Westgate-sentrum in Nairobi, Kenia, en die bekendmaking dat een van die verdagtes, Samantha Lewthwaite, oor ʼn Suid-Afrikaanse paspoort beskik het wat op bedrieglike wyse bekom is.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die Britse regering al in 2009 met die instel van visumverpligtinge vir Suid-Afrikaanse burgers gewaarsku dat Suid-Afrikaanse paspoorte “van die mees misbruikte paspoorte” ter wêreld is. In plaas daarvan dat die minister van binnelandse sake, Naledi Pandor, die probleme in haar departement oplos, het sy drie maande gelede nog die wederkerige instel van visums vir Britse paspoortgebruikers bepleit – ʼn stap wat as kleinlike weerwraak beskou kan word, aangesien dieselfde vraagtekens nie oor Britse paspoortuitreikings hang nie.

“Minister Pandor se uitlating dat Lewthwaite se gebruik van ʼn Suid-Afrikaanse paspoort geen nadelige gevolge vir plaaslike reisdokumente se integriteit inhou nie, is kommerwekkend. Natuurlik hou dit ernstige gevolge vir alle Suid-Afrikaanse paspoortgebruikers in – as Lewthwaite ʼn paspoort op bedrieglike wyse kon bekom, kon enige misdadiger dit bekom. Veiligheiddienste en paspoortbeheerpunte dwarsoor die wêreld gaan dit weet en weer eens moet eerlike Suid-Afrikaanse burgers nou die prys vir die regering se wanbestuur betaal,” het Bailey gesê.

Wat grensbeheer betref, het Bailey genoem dat die Suid-Afrikaanse immigrasiewet omvattend is. Solank enigeen egter na willekeur oor die grens kan stap en om asiel aansoek kan doen, is dit nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Volgens Bailey moet wettige immigrante derduisende rande spandeer om aansoeke te finaliseer en dan maande tot jare wag vir toestemming om te mag werk in Suid-Afrika, maar sogenaamde vlugtelinge omseil al die stappe – al kom hulle dikwels van lande waar daar geen konflik is nie. “Die situasie moet dringend aandag geniet en sal nie deur ʼn nuwe immigrasiewet opgelos word nie. Dieselfde geld vir korrupsie binne die departement van binnelandse sake. Die minister en die regerende party moet verantwoordelikheid vir hulle wanadministrasie aanvaar en nie agter verskonings oor gebrekkige wetgewing probeer skuil nie,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jasper ·

Los die wette. Maak eers huis skoon. Begin by die minister.
Bla! bla! bla! bla ! en dit gaan maar net so aangaan.

Erich Goosen ·

So tipies van die huidige regering. Wil alles met nuwe wetgewing wegmaak. ‘n Wet is so effektief as die staatsorgaan wat dit moet toepas. Met ‘n Minister soos Naledi Pandor sit ons weer met die ou probleem dat ‘n swak Minister word net rondgeskuif met die hoop dat die Minister beter sal vaar in die nuwe portefeulje wat selde gebeur en net die gevolg het dat sy/haar onbevoegdheid net verdere probleme skep. Die ANC moet nou die manmoedigheid het om te erken dat hulle gefaal het deur te vining mense in uitvoerende post te plaas wat nie daarvoor opgewasse is nie. Stel van die (ou) kundigheid weer aan as konsultante om die huidige DGs by te staan en hoop en bid vir ‘n wonderwerk.

H J Bester ·

Mantashe van die ANC wil nog meer wette maak om toelating tot die land kamtig te beheer. Dis ‘n bluf want aan die ander kant word wette en die regbank net nie meer deur die ANC-regering respekteer nie. Die meeste swart landdroste en regters het lakeie van die ANC geword en dans na die pype van Zuma.

Gunter ·

Wetstoepassing is die grootste vaal in ons land.
Dit geld vir alle wette wat daar is, waaronder ek spesifiek verkeersbeheer wil beklemtoon mbt. padwaardigheid van karre en drink en bestuur. Daar is niks fout met hoe die wet huidiglik uiteengesit is nie (inteendeel, soms is hulle té streng), dis die toepassing daarvan wat vaal.
Die gevolg is altyd dieselfde — Deur die wette strenger te maak word gehoorsame burgers belemmer en die wettelose gaan voort soos normaal.

Nico Kruger ·

Ek stem saam met Gunther. Die vrou het ‘n SA paspport gekry met die hulp van ‘n korrupte amptenaar. Hoe gaan strenger wetgewing dit keer. Of bestaan daar dalk nie ‘n wet teen korrupte amptenare nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.