BBP-bestuurders gemaan om stadiger te ry

BBP-bestuurders vir LUR’e moet by die spoedgrens hou, het ʼn senior regsdienstebeampte Dinsdag aan die streekshof in Pietermaritzburg gesê, berig SAPA.

Christoffel van Niekerk van die departement van gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal het gesê dat BBP-bestuurders nie moet jaag nie en dat hulle genoeg tyd moet inruim om LUR’e rond te ry. Van Niekerk sê die LUR’e het geen mag om hul bestuurders opdrag te gee om te jaag nie, aangesien slegs bevelvoerders opdragte aan hulle mag gee. Van Niekerk was besig om in Hlanganani Nxumalo, die lyfwag van LUR Meshack Radebe, voormalige LUR van sosiale ontwikkeling in KwaZulu-Natal, se hofsaak te getuig. Nxumalo staar ses aanklagte van poging tot moord in die gesig.

Hy het glo die buiteband van ʼn Mazda naby Camperdown geskiet terwyl hy en sy kollega, Caiphus Ndlela, in November 2008 gery het om Radebe te gaan haal. Die skoot het veroorsaak dat die bestuurder beheer oor sy voertuig verloor, voor inkomende verkeer ingery het en kop-teen-kop met ʼn bakkie gebots het. Nxumalo het verlede jaar aan die hof gesê dat die bestuurder van die Mazda ʼn bedreiging vir hom ingehou het, en gepoog het om hulle van die pad af te druk. Volgens Nxumalo het hy die bestuurder met ʼn handgebaar gewaarsku om stadiger te ry, maar hy het slegs ʼn obsene handgebaar in reaksie ontvang.

Van Niekerk sê hy kan nie kommentaar lewer oor hoe bestuurders moet optree indien hulle van die pad af gedruk word nie, soos wat Nxumalo beweer nie. Die aanklaer en verdediger sal na verwagting op 16 Mei hul slotargumente lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.