BBP-groeisyfer laag vir eerste kwartaal

Die bruto binnelandse produk (BBP) het slegs met 0.9% in die eerste kwartaal van 2013 gegroei, het Statistiek SA Dinsdag aangekondig.

Die groei is laer as die 2.1% wat in die vierde kwartaal van 2012 bereik is. Die BBP het egter met 1.9% gegroei vergeleke met die eerste kwartaal van 2012. Die grootste bydraende faktor vir die groei in die eerste kwartaal van 2013 is die mynbedryf, finansies, eiendom en besigheidsdienste, wat elk 0.7% bygedra het.

Algemene staatsdienste het 0.3% bygedra, terwyl groothandel, kleinhandel, motorhandel, spyseniering, akkommodasie, vervoer, stoorspasie en die kommunikasiebedryf elk 0.2% bygedra het.

Sektore wat ‘n afname beleef het is vervaardiging, landbou, bosbou, vissery, elektrisiteit, gas en water.

Nominale BBP teen markpryse in die eerste kwartaal van 2013 was R814 miljard, wat R1 miljard minder is as die vierde kwartaal van 2012.

Finansies, eiendom en besigheidsdienste het met R7 miljard tot R161 miljard in die eerste kwartaal van 2013 verstewig. Landbou, bosbou en vissery het met R4 miljard tot R14 miljard gestyg.
Groothandel, kleinhandel, motorhandel, spyseniering en akkommodasie het met R15 miljard gedaal tot R115 miljard. Vervoer, stoorspasie en kommunikasie het met R5 miljard gedaal tot R63 miljard. Mynbou het met R3 miljard gedaal tot R63 miljard.

Volgens Joe de Beer, direkteur-generaal van Stats SA, is dit egter te vroeg om te voorspel dat 2013 ‘n lae ekonomiese groei gaan toon. “Die eerste kwartaal van 2013 is definitief laer as die laaste kwartaal van 2012, maar dit is te vroeg om ‘n voorspelling vir die hele 2013 te maak,” het hy gesê. “Dis moontlik dat groei in die tweede en derde kwartale hoër kan wees as wat in die eerste kwartaal aangeteken is.” Hy stem egter in dat “meeste mense sal saamstem dat dit ‘n teleurstellende syfer is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.