Bedrieër ‘brigadier’ se lyk in sel gekry

ʼn Man wat die polisie in KwaZulu-Natal laat glo het dat hy ʼn brigadier van die Valke was, se lyk is in ʼn polisiesel in Pretoria gevind.

Musa Muzi Khumalo is by die Moot-polisiestasie aangehou op aanklagte dat hy hom as ʼn polisieman voorgedoen het en moord. Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoek­direktoraat (Opod), sê Khumalo se liggaam is omstreeks 15:00 Saterdagmiddag in ʼn aanhoudingsel by die polisiestasie aangetref. Khumalo het homself glo aan die sel se venster opgehang met ʼn kombers. Dlamini sê Khumalo is vroeër dieselfde dag in hegtenis geneem.

Khumalo het verlede jaar uit aanhouding ontsnap nadat hy in hegtenis geneem is op aanklag van moord. Vroeër die jaar het Khumalo weer die nuus gehaal nadat die polisie in Johannesburg ʼn foto van hom versprei het en hulle kollegas in Durban hom herken het as ʼn “brigadier” wat verbonde was aan die Valke in Durban. Khumalo het die polisie met ondersoekwerk bygestaan en het glo gehelp om meer as 40 gesteelde voertuie terug te kry. Khumalo was glo betrokke by ʼn motordiefstal- en kapingsindikaat en het die “posisie” gebruik om opposisie sindikate in die slag te laat bly. Khumalo, ʼn Zimbabwiër, het glo ook in 2008 sy dood vervals. Hy het egter kort hierna uit die dood uit ‘opgestaan’ as ʼn Suid-Afrikaner en ʼn Suid-Afrikaanse paspoort en identiteitsdokument bekom. Khumalo het vroeër vanjaar op die vlug geslaan nadat dit aan die lig gekom het dat hy nie regtig ʼn polisieman was nie en uit aanhouding ontsnap het. ʼn Reuse soektog is onder meer in Mosambiek en Zimbabwe van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.