Bedrieër weer in die hof

Argieffoto

Argieffoto

Rene Borchjes (39) het Dinsdag in die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn nadat sy glo nie die geld terugbetaal het wat sy gesteel het nie.

Borchjes, ʼn voormalige kinderonderhoudbeampte by die Bishop Lavis-landdroshof, het in Desember ʼn opgeskorte vonnis gekry vir bedrog en geldwassery. Sy is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is, op die voorwaarde dat sy die R80 000, wat sy gesteel het, voor die einde van Desember aan die departement van justisie sou terugbetaal.

Landdros Simon Leope het aangevoer dat Borchjes versuim het om die voorwaarde na te kom. Volgens Leope is sy terug in aanhouding en die staat sal ʼn aansoek indien sodat haar opgeskorte vonnis teruggetrek kan word en sy met haar tronkstraf kan begin.

Sy het voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn en die saak is tot 10 Februarie uitgestel sodat sy weer met haar prokureur, W Fourie, in verbinding kan tree.

Fourie het Borchjes verteenwoordig op ses aanklagte van bedrog en ses aanklagte van geldwassery. ʼn Pleitooreenkoms is bereik.

Borchjes moes, as ondersoekbeampte, klagtes oor die versuim om onderhoud te betaal, ondersoek. Sy moes bepaal of die betrokke pa’s aan voorsorg- of pensioenfondse behoort en hofbevele op werkgewers en fondsbestuurders bedien. Sy het glo vervalsde hofbevele gebruik sodat betalings aan die hof se bankrekening gedoen moet word. Sy het die geld dan na die bankrekeninge van ma’s, wat onderhoud deur die hof ontvang, gekanaliseer. Sy het daarna die vroue in kennis gestel dat die geld verkeerdelik oorbetaal is en dat hulle die geld in haar rekening moes terugbetaal. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.