Beeld-fotograaf moes foto’s uitvee

Harbour Fish & Meat Market in Bedfordview. Foto: Dining-out.co.za

Harbour Fish & Meat Market in Bedfordview. Foto: Dining-out.co.za

Beeld beoog om kriminele aanklagte aanhangig te maak nadat een van sy fotograwe glo geteister is omdat hy foto’s van ʼn restaurant geneem het wat gereeld deur Radovan Krejcir, die omstrede voortvlugtige Tsjeggiese besigheidsman, besoek word.

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) het Donderdag die voorval streng veroordeel. Die voorval het Woensdag by die Harbour Fish & Meat Market plaasgevind. Werknemers van die restaurant het beslag gelê op die fotograaf, Cornél van Heerden, se kamera nadat hy foto’s van die restaurant en die parkeergebied by die Bedford Centre geneem het.

“Nadat die restaurant se werknemers die fotograaf gesien het, het twee mans aggressief op Beeld se span in hul voertuig afgestorm,” het Sanef gesê. “Hulle het alle kameratoerusting uit die voertuig gehaal en Van Heerden se kamera uit sy hande gegryp, waarna hulle met al die toerusting in die restaurant in is.”

Die joernaliste het die sentrum se veiligheidswagte ontbied, wat glo geweier het om in te meng.

Beeld het die Bedfordview-polisiestasie gebel, wat drie beamptes na die toneel ontbied het.

Die restaurant het aangebied om die toerusting terug te gee op voorwaarde dat al die foto’s wat van die restaurant geneem is, uitgewis word.

“Wat meer skokkend is, is dat die polisiebeamptes saamgestem het dat die foto’s uitgewis moet word,” het Adriaan Basson, Beeld se redakteur, in ʼn verklaring gesê.

Basson het aan sy span opdrag gegee om maar die foto’s uit te wis sodat hulle hul toerusting kan terugkry. “Dit was duidelik dat hulle in gevaar was, en ek wou nie toelaat dat my kollegas argumenteer met mense wat duidelik nie ‘n idee het wat vryheid van spraak is nie,” het Basson gesê.

Nadat die foto’s uitgewis is, is die kameratoerusting teruggegee.

Basson het gesê hy is woedend oor die restaurant se optrede, aangesien die foto’s van ʼn publieke plek af geneem is. Hy sê ook die sentrum se bestuur het ook gefaal deur nie in te meng nie.

Sanef het gesê hul gaan die saak verder neem en by polisiekommissaris Riah Phiyega ʼn klagte indien en versoek dat die drie beamptes, wat op die toneel was, dissiplinêr aangekla word, omdat hulle saamgestem het dat die foto’s uitgewis moet word; dít kom neer op diefstal.

Die bestuur van die restaurant het Donderdag geweier om kommentaar te lewer en het gesê slegs die eienaar kan dit doen. Die eienaar sal egter eers Donderdagmiddag by die restaurant wees en dan vir kommentaar beskikbaar wees.

Krejcir was vandeesweek weer in die nuus nadat ʼn bom by sy kantoor in Bedfordview ontplof het, en twee lewens geëis het. Lees meer hier.

– SAPA

Lees ook:
Krejcir swyg oor Bedfordview-ontploffing
Bom by Krejcir-onderneming eis twee
Nóg ‘n Krejcir-vennoot doodgeskiet
Krejcir-moordkomplot: Teenstrydighede in bewyse
Bedfordview-man by verkeerslig doodgeskiet; Krejcir ontken verbintenis
Krejcir-moordkomplot: Beskuldigde in hof
Krejcir-uitleweringsverhoor weer uitgestel
Krejcir weer in die hof
Krejcir se vermeende aanvaller dalk veiliger agter tralies
Krejcir se winkel beroof
Foto’s: Krejcir oorleef bisarre sluipmoordaanval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Se ·

Die knaap dink hy is verhewe bo die wet, hoe kan hy nog vry rondloop ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.