Beeldhouers vra om verskoning oor Mandela-hasie

Mandela se standbeeld voor die Uniegebou in Pretoria

Mandela se standbeeld voor die Uniegebou in Pretoria

Die beeldhouers van die nuwe standbeeld van oud-president Nelson Mandela by die Uniegebou het om verskoning gevra oor die hasie wat hulle tot die werk bygevoeg het.

“Ons aanvaar hulle verskoning en dat hul bedoelings eerbaar was,” het Josias Pila, woordvoerder van die departement van kuns en kultuur, Dinsdag gesê. Pila sê ʼn meer vanpaste kunstenaarshandtekening is verkieslik, en die departement oorweeg hoe om die standbeeld se integriteit te behou sonder om dit te beskadig.

André Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren, die beeldhouers van die nege meter hoë standbeeld, het aan Beeld gesê die hasie is ʼn “klein stempel” van hul werk, aangesien die departement nie wou toestemming gee dat hul handtekeninge op die soom van die een broekspyp verskyn nie. (Klik hier en hier om foto’s van die hasie in die oor te sien.)

Hulle het ook gesê hulle het ʼn haas gekies omdat dit simbolies is van die haas waarmee hulle die standbeeld moes klaarkry. Prinsloo het gesê die hasie is klein en in die oor weggesteek en doen nie afbreuk aan die standbeeld nie. “Mens het ʼn lang lens (kamera) of verkyker nodig om dit raak te sien,” het hy gesê.

Die departement het Dinsdag bevestig hulle was nie bewus van die beeldhouers se plan om ʼn hasie in die oor te plaas nie. “Dit is ʼn jammerte dat die beeldhouers sonder die medewete van die persone wat hulle aangestel het, besluit het om ʼn voorwerp in die standbeeld te plaas,” het Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, gesê.

Die standbeeld is op 16 Desember deur pres. Jacob Zuma ingehuldig. -SAPA

Lees ook:
Hasie in Mandela se oor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eben ·

Paul Mashatile hoekom kan die beeldbouers nie hulle handtekening op die broek soom aanbring. Kom ons vertel jou, julle wou vir die nageslag vertel dat dit NIE wit mense was wat die beeld gemaak het. Julle sou dit ten sterkte ontken het, wat natuurlik in julle aard is.

Nee wat ou Paultjie kom by en gee aan hulle die eer wat hulle gedoen het wat dit sit NIE in jou broek om dit te doen!

AmY ·

Ek stem saam Eben. Dis soos in ek skilder ‘n skildery vir die president se kantoor, maar ek mag nie my naam op die skildery aanbring nie.

Lizelle le Roux ·

Ek sekondeer. As ek ‘n kunstenaar was en ‘n 9 meter hoë standbeeld moes oprig, hoekom mag my naam nie iewers verskyn nie? Dis mos immers die kunstenaar se reg? En myns insiens hoef dit nie eens weggesteek te word nie, want dit gee tog erkenning aan die kunstenaar?

Rieks ·

Eerstens – Hierdie beeld is 9m hoog – hoe is dit moontlik dat hulle nou eers (per ongeluk) gesien het dat ‘n hasie deel is van hierdie GROOT prentjie? Tweedens – hoe besluit jy as beeldhouer om so iets aan te bring wanneer die bestelling dit nie op het nie?… en jy word so baie betaal vir die KUNSWERK?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.