Tessa Beetge, die veroordeelde dwelmmuil, is ná vyf en ʼn half jaar uit ʼn Brasiliaanse tronk vrygelaat, het die SAUK Dinsdag berig.
Beetge se pa, Swannie Swanepoel, het aan die uitsaaier gesê die departement van internasionale betrekkinge het die vrylating aan hom bevestig.
Beetge is in 2008 by die Guarulhos-lughawe in Sao Paulo met 10.2 kg kokaïen in haar bagasie betrap. Sy is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis. Sy is deur Sheryl Cwele gewerf om die kokaïen van Suid-Amerika te smokkel.
Cwele is die eksvrou van Siyabonga Cwele, die minister van staatsveiligheid. Cwele en haar medebeskuldigde, Frank Nabolisa, is in Mei 2011 deur die Pietermaritzburg-hooggeregshof skuldig bevind aan dwelmhandel. Die twee het die hoogste hof van appèl genader om hul skuldigbevinding om te keer, maar die hof het hul vonnisse van 12 na 20 jaar verleng. -SAPA