Befondsing verhinder “tande”-toestel teen verkragtings

WAARSKUWING: Die berig bevat inligting en foto’s wat nie vir sensitiewe lesers of kinders geskik is nie.

Dr. Sonnet Ehlers, ʼn ontwerper en teen-verkragtingsaktivis van Suid-Afrika, sê al hoe ʼn mens toenemende verkragtingvoorvalle kan stop, is om verkragters seer te maak waar dit saak maak.

Ehlers, wat ʼn spesiale kondoom met ‘tande’ ontwerp het, het in ʼn eksklusiewe onderhoud met Maroela Media gesê alles is in plek vir die Rape-aXe-toestel om wêreldwyd versprei te word, maar dat ʼn tekort aan fondse die vervaardiging daarvan verhinder.

“Al die toeste is gedoen. ʼn Vervaardiger is gekry. Regs- en mediese aspekte is in plek, maar dit gaan miljoene kos om die produk te produseer,” het Ehlers gesê.

Rape-aXe, wat in 2005 bekendgemaak is, is soortgelyk aan ʼn vrouekondoom. Sou ʼn aanvaller die vrou teen haar wil wou penetreer, slaan hoeke in die penis in en kan die toestel nie sonder mediese hulp verwyder word nie.

“Daar is nie ʼn manier wat enigiemand dit self sal kan afhaal nie. Die ‘verkragter’ sal mediese hulp moet ontvang en kan dan aangekeer word,” het Ehlers gesê.

Sy sê mediese toetse is gedoen en dit moes onder andere ook deur ʼn man ‘getoets’ word. “Die man wat dit getoets het, het erken dat die pyn onuithoudbaar was. Hy kon skaars beweeg na dit eers ‘gebyt’ het,” sê sy om die teendeel te bewys dat sommige kritici meen die toestel sal veroorsaak dat ʼn verkragter sy slagoffer erger leed gaan aandoen as hy eers seerkry.

Sy sê sedert die toestel bekend gemaak is, en dit aanvanklik vir verkragtingslagoffers in Suid-Afrika bedoel was, is sy oorval met navrae van mense van regoor die wêreld. Sy het egter al haar persoonlike fondse uitgeput en dis al wat dié markgereedproduk verhinder.

“Daar is nou genoeg gepraat, dit is tyd dat daar iets gedoen word. Die toestel werk! Toe ek destyds die produk in dorpe gaan bekend gemaak het, het verkragtings daar afgeneem. Die mans in die dorpe het gedink ek het van die toestelle agtergelaat, maar ek het nooit nie. Net die gedagte dat die vroue oor die mag beskik, het die pandemie gekeer, het die polisie self aan my bevestig,” het sy gesê.

Sy sê sodra befondsing gekry word, kan die toestel binne ses maande op winkelrakke beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LOUIS JORDAAN ·

Wonder nou net as daar niks gebeur hou haal sy daai ding uit.Eina vinger.

Trudie Erasmus ·

Al lankal hiervan gelees maar nou wil ek weet, moet elke vrou in Suid-Afrika nu elke dag so ‘n ding insit vir “ingeval”, want defnitief het vrouens wat verkrag is, nie geweet hulle gaan verkrag word nie en voorsorgmaatreëls geneem nie. Nee wat, ek glo nie dit gaan werk nie.

Jack Giacometti ·

So Trudie, wat stel jy voor. Asb lig al die vroumense in oor hoe hulle hulself kan beskerm. Ek dink dis ‘n briljante idee. As daar miljoene in my bank was sou ek dit beslis belê het in die produksie van die kondoom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.