Maartens van der Merwe is Dinsdag in die rondgaande hof op Virginia skuldig bevind aan die moord op Michael van Eck (23) in 2011 in ‘n begraafplaas in Welkom.
Van Eck is in 2011 in ‘n begraafplaas vermoor en sy liggaam is vermink. Van sy liggaamsdele is in ʼn vlak graf gevind en sommiges, waaronder die vel van sy gesig, is in ʼn yskas gekry.
Van der Merwe se verloofde en mede-beskuldigde, Chané van Heerden, het verlede jaar op dié moord skuldig gepleit en is tot ‘n minimum van 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Regter Ian van der Merwe het bevind dat Van der Merwe tydens die voorval tussen reg en verkeerd kon onderskei.
Pieter Nel, Van der Merwe se regsverteenwoordiger, het skuld erken op al die aanklagte teen Van der Merwe. Die 25-jarige is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en lykskending.
Die verhoor duur voort.